Drukgroep waarsku oor verkiesingsgeweld

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die Koalisie teen Geweld het die regering versoek om op te tree om gewelddadige betogings in die kiem te smoor met die munisipale verkiesing kort om die draai.

“Ons is baie bekommerd oor gewelddadige betogings wat toeneem en die verkiesing wat al nader kom. Die koalisie sal tendense uitwys en druk op die regering en politieke partye plaas om gepas op te tree,” het Numfundo Mogapi, direkteur van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (CSVR), gesê.

Die Koalisie teen Geweld bestaan uit verskeie organisasies en word deur die CSVR en die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) bestuur.

Lizette Lancaster, navorser by die ISS, het gesê munisipaliteite moet aansoeke om betogings te hou, ernstig opneem. “Die reg om te betoog word vervat in die Grondwet en moet respekteer word. Die Koalisie teen Geweld sal daarop fokus om die snellers wat veroorsaak dat betogings gewelddadig raak, te identifiseer. Die faktore wat verhoed dat geweld in die eerste plek uitbreek, is net so belangrik.”

Volgens Municipal IQ het diensleweringsbetogings oor die afgelope paar jaar skerp toegeneem. Die organisasie het gesê daar was meer as 70 betogings in die eerste vier maande van 2016 en die meeste daarvan het in Gauteng voorgekom.

“Die oorsaak van gewelddadige betogings in Suid-Afrika is ingewikkeld, maar dit beteken nie protesaksie moet ontmoedig word of dat gepaste optrede nie gebruik kan word om die impak van geweld in die weke wat voorlê, te verminder nie,” het Mogapi gesê.

“Onderliggende kwessies soos sosio-ekonomiese uitsluiting, ongelykheid, armoede, werkloosheid en onopgeloste trauma oor ons verlede speel ʼn rol hierin.”

Die koalisie het politieke partye versoek om die Verkiesingskommissie (OVK) se gedragskode   te respekteer. “Kiesers moet politieke verteenwoordigers en hul onderskeie partye op ʼn vredeliewende wyse en deur die stembus verantwoordbaar hou.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Penellope Jones ·

Wat my bekommer is die betogings en onluste na die verkiesing.

Adam ·

Veral daar waar die ANC beheer gaan verloor want hulle gee nie mag af nie Kyk maar na die situasie op Oudtshoorn as gevolg daarvan

Anton ·

En ook as EFF verloor want hulle het klaar bedreig hulle gaan dit nie aanvaar as daar “gekook” word met verkiesingsuitslae nie. Hulle verwagtinge is hoog. Maak nie saak of hulle gaan goed of sleg doen nie, hulle gaan moeilikheid maak.

John ·

Maniere sal gevind moet word om landsburgers in te lig oor die veiligheidsituasie in die land in tydperk rondom die verkiesing wat sonder twyfel brandpunte gaan oplewer. Veral die veiligheid op paaie is belangrik want die publiek kan in die moeilikheid raak waar opstande skielik begin wat mense weerloos laat. Die regering gaan nie die indruk wil skep dat probleme wel bestaan nie, wat slegte gevolge mag inhou. Plaaslike radiostasies sal lewe moet kry in die’ verband.

Anton ·

Dit is n baie goeie idee. Plaaslike radiostasies, en simmer hier ook, dat ons kan weet wat om te doen tyd ens nood.

gerhard ·

gaan na suidlanders. moet nie die radiostasies glo nie, hulle word gesensuur.

Koos ·

Die polisie moet meer doen en minder monitor daar is ‘n groot verskil tussen ‘n vreedsame betoging en kriminaliteit waar brandstigting en roof van besighede die eintlike doelwit is.

Pieterdp ·

Die SAUK sal eerder als uit sny en hul werknemers afdank as om liewer in n gees van op bou en waardes saam met die slegte nuus te plaas. So kan die res van die volk ook leer hou en wat om te doen sonder enig skade aan ander se eiendom.

So as die regering nie hul werk na wense doen nie om die volk op n mooi manier mee te deel die stem bus is die beste uit weg om die probleme reg te stel.

Veritas ·

Die ‘Koalisie teen geweld’, word bestuur deur CSVR en ISS. Die feit dat hulle dink die verlede het iets met die geweld uit te waai, bewys net dat dié groepe geen idee het waaroor die geweld gaan nie. ‘Apartheid’ het ‘n versamelnaam geword vir al die redes waarom dinge verkeerd loop. Die huidige vlaag gewelddadige oproere, word veroorsaak deur die hoë werkloosheidsyfer en kriminaliteit (indien daar so’n woord bestaan). Die dag wanneer die regering besef dat werkskeppingsgeleenthede voorkeur moet kry in AL die besluite, wat hulle neem, sal dinge begin verander. Indien die status quo gehandhaaf word, kan ons maar vergeet om geweld hok te slaan.

Maria van Dieweeck ·

Trauma van die verlede se voet man! As die vrot ANC hul werk so goed gedoen het ipv om so goed te steel, sou daar geen onluste rondom verkiesings gewees het nie.

Johannes Meintjes ·

Wat my erg bekommer is die blanke Afrikaner se onvermoe om al ons berade en insigte tot datum in effektiewe nasionale GPF strukture, buurtwagte, plaaswagte, alternatiewe ekonomiese modelle en eie belastingbasis te omskep. Selfbestuur en selfbeskikking is skynbaar maar deel van die tradisonele towerfluitspel of politieke geelwortels wat ons mense net al verder op die brede weg langs begelei, terwyl SA, en nou ook Zim, brand.

Moeg!!! ·

Probleem met bestaande GPF strukture, met hul claim to fame, wys weereens dat blankes nou maar net nie kan saamstaan nie, Politieke speletjies, magsbeheptheid, rugstekkery, terughou van waardevolle info ens. Ek blom al 4 jaar in die GPF, en ja daar is bestaande strukture, maar kan met eerlikheid se dat, al die bogenoemde jou siel doodmaak, en die lewe uit jou suig. Met mede landsburgers soos dit, hoe red jy n nasie.

GES ·

Die probleem rondom eie beskermingstrukture soos buurtwagte ens. is legio. Persone wat die moed het om sulke strukture te probeer organiseer ontvang gedurig doodsdreigemente en daar word absoluut niks daaraan gedoen nie. Ek het begrip vir die vuisfoosheid van ons mense. Om iets op mikrovlak te probeer doen is bykans onmoontlik. Ons is uitgelewer.

Eend ·

Lees gerus Johannes en GES se kommentaar weer. Wat Johannes se sal net moet na gekyk word om te oorleef en wat GES se sal moet oorkom word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.