Duimpie op: ‘Alles is orraait, pa, ma!’

Baba Nagel wys ’n op-duimpie aan haar ma en pa. (Foto: Verskaf)

’n Gautengse egpaar was dankbaar om te hoor dat hul babadogtertjie nié met spina bifida gebore sou word nie. So asof om haar ouers gerus te stel, het hul ongebore kind toe tydens ’n sonar vanuit die baarmoeder ’n op-duimpie aan haar ma en pa gewys.

“Ek was dadelik rustig. Dit was asof sy vir ons gesê het: Haai, ma en pa, alles is orraait hier binne. Dis nie nodig om so te stres nie,” vertel ’n swanger Kelly Nagel nadat ’n dokter tydens die sonar-afspraak bevestig het dat daar géén teken van spina bifida of enige ander geboortedefek is nie.

Kelly vertel sy was angsbevange toe sy Maandag vir die afspraak opgedaag het. “Ek onthou ek het daar gaan lê, hard gebid en albei my duime vasgehou.”

Kelly en haar man, Tinus, het voor dié afspraak twee weke van slapelose nagte gehad nadat dokters verlede maand vir hulle gesê het daar is ’n verhoogde kans op spina bifida – ’n geboortedefek wat ’n onvolledige ontwikkeling van die ruggraat tot gevolg het.

Derde en laaste probeerslag

Tinus en Kelly Nagel. (Foto: Verskaf)

Die moontlikheid van spina bifida was senutergend vir die egpaar, wat twee jaar gelede ’n miskraam en in Maart vanjaar die dood van ’n premature baba moes verwerk.

Kelly vertel sy het in November 2020 op 9 weke ’n miskraam gehad. ’n Jaar later het sy weer swanger geword. Kelly het egter in Maart vanjaar in vroeë kraam gegaan weens ’n infeksie.

Die babadogtertjie is op 20 weke gebore, maar het maar twee uur geleef voordat sy eindelik oorlede is.

Toe kry Tinus en Kelly van Rayton in Julie vanjaar die verblydende nuus van hul derde swangerskap. Bloeduitslae het egter hierdie keer ’n verhoogde risiko van spina bifida getoon.

“Ek het in trane uitgebars,” onthou Kelly oor die oomblik toe sy verlede maand die nuus meegedeel is.

“Ek kon nie anders nie. Dit is ons laaste probeerslag. Ons het die volgende twee weke erg gestres. Ek het nagte omgehuil. Ek het vir my man gesê: ‘Hoe sorg ons vir so ’n kind? Ons het nie die finansies óf fasiliteite vir ’n kind met spina bifida nie.”

Maar toe gooi “sussie” Maandag ’n op-duimpie. “Dit was die beste dag gewees. Ons het dadelik ’n fotoraam gaan koop vir die sonarfoto. Dit was so sweet.”

Baba Nagel maak haar opwagting April 2023.

“Ons is baie opgewonde,” vertel Kelly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sonblom ·

Aag die ou duimpie is so mooi. Kelly, ek is so jammer vir wat jy moes deur maak. Mag hierdie klein mensie sonder probleme gebore word en vir jou en Tinus meer vreugde verskaf as waarvan julle kon droom.

Ruby ·

Ag, dis nou cute.

Geniet haar mamma en pappa, mag sy die dogter word waaroor julle gedroom het, spreek die seëninge oor haar uit.

Gaitsigubib ·

Mense kan maar se wat hulle wil, maar ek het die krag van gebed al te veel male in aksie gesien om anders oortuig te word. Onthou net dat die dr is slegs n instrument in die Hande van n groter gesag. Gee Hom vir wie dit toekom al die eer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.