Duisende biblioteekboeke ingehandig, duisende nog uitstaande

Inkleurpret by Sir Lowryspas-biblioteek (Foto verskaf)

Kaapstad se biblioteke het tydens ʼn onlangse boetevrye week sowat R1 miljoen se boeke teruggekry, maar daar is nog steeds duisende boeke uitstaande.

Biblioteke het minder as ʼn maand gelede ʼn beroep gedoen op die publiek om sowat 40 000 items, ter waarde van ongeveer R4,6 miljoen, terug te bring. Dié items is in 2022 uitgeleen, maar nooit weer ingehandig nie.

“Daar is nog steeds meer as 30 000 van die items uitstaande, maar ons wil elkeen bedank wat wel aan die versoek gehoor gegee het,” sê Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid oor gemeenskapsdienste en gesondheid.

“Baie meer mense het tydens die skoolvakansie tyd om die biblioteek te besoek. Die items wat ingehandig is, kan nou weer gesirkuleer word om ander in te lig en te vermaak.”

Altesaam 7 308 items (tydskrifte uitgesluit) ter waarde van R827 341 is ingehandig.

Bo-op die stapel was sewe eksemplare van Diary of a Wimpy Kid: The Last Straw deur Jeff Kinney. Tien eksemplare van dié boek is nog uitstaande.

Ander gewilde items wat ingehandig is, sluit in Goldilocks and the Three Bears, Rooikappie, ʼn Graad 12-studiegids, Percy Jackson and the Battle of the Labyrinth en Where’s Wally Now?

“Ons is baie bly dat Wally sy weg teruggevind het na die biblioteek, want wanneer items nie weer ingehandig word nie, beteken dit dat ander nie die stories of hulpbronne kan geniet nie. Dit het ook ʼn finansiële impak op die biblioteekdiens.”

Van der Ross sê nog hoogtepunte is die talle programme wat Kaapstad se biblioteke tydens skoolvakansies aanbied. “Daar is ʼn rits aktiwiteite wat verveling hokslaan en ʼn groot deel daarvan is die items wat aangebied word om uit te leen of huis toe te vat. Daar is altyd tyd om boeke of ander materiaal terug te gee – moenie dink jy het die geleentheid misgeloop nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.