Duisende teken petisie oor misdade teen kinders

Marlene de Villiers, bemarker by AKK Nylstroom, oorhandig die petisie. (Foto: Verskaf)

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKK Nylstroom) het Vrydag ʼn protesaksie by die Uniegebou gehou waar ʼn petisie met meer as 6 000 handtekeninge aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor saam met ʼn memorandum oorhandig is.

Dit is gedoen om die publiek en die regering bewus te maak van misdade teen kinders en hoe die stelsel kinders tans benadeel. Die petisie het ook briefies en prentjies van kinders ingesluit wat wys hoe hulle voel die regering eintlik na kinders behoort om te sien.

In September vanjaar is die veldtog #KinderlewensMaakSaak van stapel gestuur om die erns van geweld teen kinders uit te wys as deel van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog teen geweld teen vroue en kinders, wat van 25 November tot 10 Desember geduur het.

Volgens Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die AKK Nylstroom in Modimolle, wou die kinderhuis die petisie met sy memorandum en briefies op Internasionale Menseregtedag (10 Desember) aan die president oorhandig, maar die oorhandiging is op versoek van die presidensie met ʼn dag uitgestel.

Vrydag was die presidensie steeds nie beskikbaar, of gereed, om die petisie te ontvang nie. Nadat die kinders vir ʼn uur buite in die son gestaan het kon ʼn verteenwoordiger die tyd afstaan om die memorandum te ontvang.

Volgens Marlene de Villiers, bemarker by AKK Nylstroom, is dié veldtog deur duisende Suid-Afrikaners ondersteun wat die kinderhuis se petisie geteken het. Vir die kinderhuis beteken dit mense is besig om op te staan vir kinders se leed.

“Dit staan in skrille kontras met hoe die presidensie vandag die kinders hanteer het. Die AKK Nylstroom beoog om voort te gaan met die petisie in 2021 om ook by die parlement en parlementslede simpatie te kry vir die kinders om die veranderinge wat gevra word ʼn realiteit te maak.”

De Villiers het verder gesê dat Suid-Afrika uitstekende wette en ’n nasionale aksieplan het om geweld teen kinders te voorkom en daarop te reageer; dit is ’n duidelike aanduiding van politieke wil.

“Wette en beleid op hul eie is egter nie genoeg nie. Sonder afdwinging is dit betekenisloos.

“In die Grondwet van Suid-Afrika (No. 108 van 1996) se Handves van Regte het alle persone die reg om hul menswaardigheid te beskerm en om gerespekteer te word. Suid-Afrika het hoë moordsyfers, met byna drie kinders wat daagliks om die lewe gebring word. Elkeen van hulle het die reg op lewe gehad,” sê De Villiers.

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het Vrydag ʼn protesaksie by die Uniegebou gehou waar ʼn petisie aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor oorhandig is. (Foto: Verskaf)

AKK Nylstroom het die veldtog gebruik om die kinderhuis se kommer aan die president oor te dra en ’n dringende versoek te rig vir die bekamping van geweld teen die kinders van Suid-Afrika.

“Spesiale voorsiening word in die Grondwet van 1996 vir kinders gemaak en verklaar dat alle kinders die reg het op toepaslike versorging, basiese voeding, skuiling, basiese gesondheidsorgdienste en maatskaplike dienste, en om onder meer beskerm te word teen mishandeling, verwaarlosing of agteruitgang.”

De Villiers meen die president moet stappe doen om te verseker dat hierdie wetgewing ter beskerming van kinders op alle vlakke tot uitvoering gebring word.

AKK Nylstroom is ’n nie-winsgewende organisasie wat 170 kinders versorg wat weens verwaarlosing of mishandeling uit die sorg van hul ouers verwyder is en wetlik in die kinderhuis geplaas is. Kinders word in 15 huise ingedeel met kinderversorgers by elk om hulle so normaal as moontlik in ʼn gesonde huishouding te versorg.

Die sangeres Corlea Botha, oud-Springbokkaptein Wynand Claassen, motiveringspreker en ontwerper Elzaan van der Merwe en die mediese estetikus dr. Riekie Smit is almal beskermhere en -vroue van AKK Nylstroom en doen ook alles in hulle vermoë om die mishandeling van kinders te bekamp.

“As ons weet daar is ʼn probleem met die aanmelding van ʼn misdaad teen ʼn kind, die hantering van bewyse, die ondersoek en hoe sake voor ʼn hof aangebied word, dan moet grootmense opstaan. Ons kan nie anders as om namens die kinders die regering te vra om sekere probleemareas te takel nie,” het Van der Merwe gesê.

As jy AKK Nylstroom met die veldtog wil ondersteun kan jy jou naam en van SMS na 39 236 (R15, bepalings en voorwaardes geld) om ook die petisie te ondersteun wat volgende jaar na die parlement geneem sal word.

Kyk die insetsel deur eNuus oor die afskop van die #KinderlewensMaakSaak-veldtog in November:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boon ·

Lug jou mening oor die paroolstelsel. Die howe lê bv straf van 10 jr op, maar dan laat Korrektiewe Dienste die veroordeelde misdadiger na minder as een jaar vry op parool. Hierdie week was daar so n berig in Rapport. In Rapport was daar die onderstaande advertensie. Wysingingswetsontwerp op Korrektiewe Dienste (B32 – 2020) is n advertensie van die regering wat voorlegging en kommentaar van publiek vra. Dis uiters belangrik, want dit handel oor wysigings aan die paroolstelsel. Sluitingsdatum is al 8 Januarie. Reageer asb as individu en versoek Maroela en Afriforum om indringend tot aksie oor te gaan. Dis jou grondwetlike plig en reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.