Duisende weer by gratis ‘parkeweek’ verwag

‘n Trop olifante in die Krugerwildtuin (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) sal vanjaar in September ʼn week lank gratis toegang tot sekere parke bied as deel van sy 18de jaarlikse Nasionale Parkeweek.

Besoekers kry van 16 tot 24 September heeldag gratis toegang tot 21 uitgesoekte nasionale parke. Akkommodasie, fasiliteite en toeriste-aktiwiteite is egter nie gratis nie.

Hapiloe Sello, uitvoerende hoof van SANParke, sê sedert Nasionale Parkeweek in 2006 as veldtog begin is, was daar ʼn toestroming van meer as 691 418 dagbesoekers om die land se nasionale parke gratis te besoek.

“Nasionale Parkeweek het bewys dat dit ʼn suksesvolle veldtog in terme van opvoeding en bewusmaking van bewaringskwessies is,” sê Sello.

“Die week, in vennootskap met Total Suid-Afrika en FNB, is daarop gemik om ʼn gevoel van trots in Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis en ʼn dieper waardering vir biodiversiteit te kweek.

“Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners die waarde daarvan sal besef om nasionale parke te besoek. Die parkeweek gee hulle die geleentheid om volhoubare bewaring te beoefen, kultuur en erfenis te bewaar en te vier, en dit speel ʼn kardinale rol om gemeenskappe wat grens aan parke te bemagtig deur werkskepping. Ons gaan voort om maniere te ondersoek om sakegeleenthede te skep veral vir kleinsake-eienaars.”

Volgens Sello het hierdie inisiatief ook ten doel om die publiek begrip te gee van die rol wat SANParke speel as bewaarder van die land se natuurlike erfenis. “As ons ʼn gevoel van eienaarskap van die natuurlike erfenis van Suid-Afrika by alle Suid-Afrikaners wil skep, dan moet alle Suid-Afrikaners toegang daartoe kan hê.”

Die volgende Nasionale Parke kan tydens die Nasionale Parkeweek gratis besoek word:

  • Addo Olifant
  • Augrabies-waterval
  • Bontebok
  • Kamdeboo
  • Tuinroete
  • Golden Gate
  • Karoo
  • Kgalagadi-oorgrenspark
  • Krugerwildtuin
  • Mapungubwe
  • Marakele
  • Mokala
  • Bergkwagga
  • Tafelberg
  • Tankwa Karoo
  • Weskus
  • Richtersveld-oorgrenspark

Besoek SANParke se webwerf om te kyk watter datums hierdie parke gratis toegang sal bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Nee wat, sal maar eerder die fooi betaal as om vertrap te word deur diegene wat niks gewoond is nie.

Karoo ·

Of dalk net nie die geleentheid het nie. Hoe anders kan jy dan iets “gewoond raak”

Karoo ·

Dis die per persoon dag fooi wat afgeskaf word. Dis gewoonlik skool groepe wat die parke kom besoek vir die dag. Alhoewel dit soms chaos is, geniet die kinders dit vreeslik wat andersins nooit so ‘n besoek kon mee maak nie.

Aanhouer ·

Maw jy betaal nie die hek se toegangsfooi nie. Dis duidelik in die berig. Toegang gratis.

Niklaas ·

Dis ‘n edel gedagte om minderbevoorregdes die geleentheid te gee om by die hekke gratis toegang te kry. Meestal word busse en taxi’s geborg vir hul vervoer. Ek persoonlik bly dan weg omdat die malende menigtes sorg dat ek nie juis in rus en vrede die KNP besoek nie. Maar ek gun die groot getalle die genot van die natuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.