Duitse egpaar by Plettenbergbaai gered

Foto: NSRI

ʼn Egpaar van Duitsland, albei 63 jaar oud, is Vrydag by Plettenbergbaai van verdrinking gered.

Jaco Kruger, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Plettenbergbaai, sê die organisasie is die oggend omstreeks 11:00 ontbied ná twee mense in die see aan die Wild Side van die Robberg-natuurreservaat in die moeilikheid beland het.

Ooggetuies het gesien hoe twee mense in die see meegesleur raak.

“Die waarskuwingsein het geloei en ons bemanning het met drie seereddingsvaartuie reageer. NSRI-reddingswemmers het ook met hul privaat voertuie reageer en direk na die parkeergebied van die Robberg-natuurreservaat gegaan. Hulle het die staproete gevolg om by die toneel uit te kom.”

ʼn NSRI-reddingswemmer het The Island bereik en bevestig dat ʼn egpaar in die see in die moeilikheid beland het.

“Hulle was reeds sowat 100 meter van die strand af en in erge gevaar om in sleurstrome te beland.”

Die reddingswemmer het die pienk reddingsboei gegryp en deur die golwe gebeur om die egpaar te bereik. In daardie stadium het die Ray Farnham-reddingsvaartuig ook op die toneel aangekom en die egpaar uit die water gered.

“Hulle is veilig na die strand gebring. Hulle is deur paramedici van NSRI ondersoek. ʼn Dokter, wat in daardie stadium toevallig op die strand was, het ook die paramedici bygestaan. Die man en vrou was in ʼn goeie toestand en baie dankbaar dat hulle gered is. Hulle het nie verdere bystand benodig nie.”

Die ooggetuies word geloof dat hulle so vinnig alarm gemaak het, het Kruger bygevoeg. “Vinnige reaksie het beteken dat ons die egpaar se lewens kon red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.