Duitse toeris in Limpopo aangerand, vermoor

(Foto: SAPD Limpopo)

Drie verdagtes, tussen 24 en 46 jaar oud, is in hegtenis geneem in verband met die aanranding en moord op ʼn 74-jarige toeris van Duitsland.

Kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie, sê die toeris het Vrydag uit Botswana vertrek en met ʼn motor na Suid-Afrika gery. Hy het Saterdagoggend in Lephalale (Ellisras) aangekom en het op pad ʼn ryloper opgelaai.

“Hy het die ryloper gevra om hom te help met akkommodasie in Noordwes voor hy sy toer oor die res van die land voortsit.”

Ledwaba sê volgens die voorlopige ondersoek blyk dit dat die twee mans ʼn vriendskap aangeknoop het en die toeris het selfs die man versoek om sy motor te bestuur.

“Met hul aankoms by die akkommodasie, glo in Moruleng (sowat 65 km noord van Rustenburg), het die verdagte voorgestel dat hulle by ʼn drankwinkel stilhou. Hulle het ʼn paar drankies geniet. Dit is in dié stadium dat die verdagte sy twee vriende in kennis gestel het dat die ouer man ʼn beduidende bedrag kontant van sy familie oorsee verwag.”

Die verdagte en sy twee vriende het met die niksvermoedende man na sy huis gery. Met hul aankoms het hulle hom vasgebind en begin aanrand terwyl hulle sy bankkaart se pin-kode geëis het. “Hulle het hom ook deursoek en hom van ʼn onbekende bedrag kontant en ander waardevolle besittings beroof.”

Die drie verdagtes het die motor se nommerplate verwyder en met die slagoffer in die motor op ʼn afgeleë grondpad na Northam in Limpopo gery. “Op ʼn sekere plaas aangekom, het hulle die slagoffer uit die voertuig gesleep om hom in die bosse te los. Die bestuurder het in die motor bly sit.”

(Foto: SAPD Limpopo)

Veiligheidsbeamptes, en ʼn lid van landelike veiligheid, was op patrollie. “Hulle het in die aand ʼn verdagte motor sonder nommerplate opgemerk. Hulle het stilgehou om ondersoek in te stel. Hulle het op die verdagte se bloedbevlekte T-hemp afgekom en die polisie in kennis gestel.”

Met die polisie se aankoms is die slagoffer se liggaam in die bosse gevind.

“Twee verdagtes het reeds van die toneel gevlug. ʼn Ondersoek is van stapel gestuur en die twee verdagtes is later die aand in Noordwes aangekeer. Hulle het van die slagoffer se eiendom in hul besit gehad.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, sê die slagoffer het dié wrede krimineel vertrou, maar hy het teen hom gedraai en saam met sy vriende die man gemartel en vermoor. “Ons sal hard werk om seker te maak ons het ʼn waterdigte saak wat sal lei tot lang tronkstraf vir hierdie oortreders.”

Die drie verdagtes, almal uitlanders, sal na verwagting Maandag in die Northam-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte, waaronder moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Michael ·

Wat was die Duitser se motief gewees om rylopers op te tel en by “dodgy” plekke te drink?

Martie ·

Nee die uitlanders(toeriste) wil mos nie luister nie. Hoeveel keer is hulle nou al gewaarsku SA is ‘n misdaad nes. Maar hulle wou mos die ANC aan bewind hê.

Richard ·

Ek dink die Duitse toeris het dalk effe meer gekry as waarna hy op soek was.

Danie ·

Toe is die Suid-Afrikaners toe nie so bevooroordeeld as wat die buitelanders hulle self desperaat wysmaak nie. Dit is gevaarlik. Dit nie die beste keuse om mense, langs die pad, sommer net op te laai nie. Jy andersheid in ‘n see van modder laat jou uitstaan en maak jou gevolglik ‘n teiken.

Aggie ·

Die toeriste snap nou nog nie dat SA ‘n hool is nie! Hy weet nie eens dat jy geen, maar geen rylopers oplaai in hierdie hool nie. En weer uitlanders!!

Pieter ·

Daarsy, kom spoandee julle euro’s in SA, en gaan in n bodybag terug huis toe.
Dis tyd dat die buiteland sanksies begin instel teen SA, want die land word deur kriminele
bedryf, en wet n orde bestaan nie meer in die land nie. Die grootste skurk sit aan die stuur van die land en sy makkers in poste wat veronderstel is om die land veilig te hou.

Jannie ·

Jammer die toeriste is so oningelig. Hul almal dink hierdie is ‘n Afrika-Utopia. Surprise!!!

ES ·

Laat ons raai, die buitelanders is van Mosambiek, Nigerie of Zimbabwe…

Fran ·

Aan alle toeriste: BLY WEG! Hierdie regering het ‘n misdaadnes veroorsaak!

WynandM ·

FA Venter se karakter in ‘n bekende boek verwys na ‘n sekere groep soos ‘n slang..wanneer jy hom sien is dit te laat. Duidelik verstaan die Duitser nie die weë van Afrika, sal egter graag die volle storie wou weet waarom hy die persoon opgelaai het.

Aai ·

Die buitelanders glo om die South African experience te beleef moet jy in die gevaarlikste plekke rondbeweeg the african way.Jammer om te se maar hy het sy eie dood bestel.

Gisela ·

My Familie en Vriende van Duitsland kom nie meer na Suid Afrika toe nie oor dit so onveilig hier is hulle gaan nou elke jaar na Namibia.

George ·

Ek dink nie een van julle besef regtig wat met SA se ekonomie sal gebeur as Europieers en buitelanders nie meer kom nie.

Jacques Dawie ·

Hoe naief is die buitelanders dan? Hoe roekeloos, as jy vir een oomblik dink omdat jy vriendelik en goedgewend is gaan jy veilig wees? Nice’ het die persoon sy lewe gekos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.