Durban-landdroshof word ontsmet

Die Durban-landdroshof. Foto: Google Maps

Die Durban-landdroshof sal Maandag en Dinsdag gesluit wees sodat dit ontsmet kan word.

Volgens Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, stel die departement van gesondheid ondersoek in na ʼn moontlike Covid-19-geval rakende ʼn werknemer van die hof.

“Die saak is Vrydag aangemeld en al die ander hofpersoneel en regsbeamptes wat in aanraking met die persoon gekom het, is geïdentifiseer en het toetsing ondergaan. Hulle is nou in selfisolasie.”

Phiri het gesê die hofgebou sal as voorsorgmaatreël ʼn deeglike ontsmettingsproses ondergaan en Woensdag weer oop wees. Sake wat Maandag en Dinsdag in die landdroshof aangehoor sou word, sal nou in die streek- en distrikshof aangehoor word wat in die munisipale hof in Somtseuweg geleë is.

“Wat nuwe strafregtelike aangeleenthede betref, is reëlings getref en landdroste, aanklaers, tolke en klerke van die hof is versoek om hierdie sake by die verskillende polisiestasies in die omgewing, wat gewoonlik deur hierdie landdroshof bedien word, na te gaan.”

Volgens Phiri sal dringende gevalle rakende huishoudelike geweld en aansoeke vir beskermingsbevele ook Maandag en Dinsdag by die munisipale hof hanteer word.

Covid-19 in tronke

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het intussen ook vroeër bekend gemaak dat nog drie beamptes van die Wes-Kaap Covid-19 opgedoen het en dat altesaam 149 gevalle nou al aangemeld is.

In die Oos-Kaap het 56 gevangenes en 35 beamptes reeds positief vir Covid-19 getoets en een persoon het reeds van die virus herstel. In die Wes-Kaap het twee gevangenes en 42 beamptes al positief getoets en is een sterfte aangemeld.

In Limpopo het twee beamptes reeds positief vir Covid-19 getoets. In Gauteng het drie beamptes en agt gevangenes positief getoets. By die departement se hoofkantoor het een beampte positief getoets.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.