Dwelms ter waarde van R65 miljoen uitgesnuffel

35 blokke kokaïen is by ʼn seehawe in Gqeberha (Port Elizabeth) gevind (Foto: Verskaf)

Die polisie het op nóg ʼn massiewe besending dwelms beslag gelê – dié keer by ʼn seehawe in Gqeberha (Port Elizabeth). Daar is beslag gelê op kokaïen met ʼn straatwaarde van ongeveer R65 miljoen wat glo op ʼn vaartuig vanaf Brasilië vervoer is.

Volgens brig. Athlenda Mathe het lede van die Gqeberha-seehawe Donderdag inligting opgevolg en die vaartuig onderskep, waarna 35 blokke kokaïen gevind is.

“Nog niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek ʼn saak van dwelmhandel,” sê sy.

Mathe bestempel dit as die polisie se derde massiewe dwelmklopjag in ʼn tydperk van drie weke.

“Die ander twee dwelmvoorvalle was in KwaZulu-Natal waar die polisie op kokaïen ter waarde van R150 miljoen beslag gelê het.”

Genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die polisie, het die span vir die jongste klopjag, asook die polisie van oor die hele land vir die stryd teen alle vorme van misdaad geprys.

“Intelligensie is aan die werk, ons lede is regdeur die land slaggereed en vat alle vorme van misdadigheid vas. Dagin en daguit gaan ons voort om op groot hoeveelhede van hierdie dwelms beslag te lê. Suid-Afrika is nie ʼn speelplek vir misdadigers nie,” het genl. Masemola gesê.

35 blokke kokaïen is by ʼn seehawe in Gqeberha (Port Elizabeth) gevind (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.