Een dood, polisieman beseer tydens skietery met verdagtes

(Argieffoto)

Een man is Saterdagaand doodgeskiet toe ʼn skietgeveg tussen ʼn groep en polisiebeamptes in Durban uitgebreek het. ʼn Polisiebeampte is ook in die proses gewond.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die polisiebeamptes was om 19:15 besig om Bellair-weg in Durban te patrolleer toe hulle die verdagtes gewaar het. Die verdagtes was besig om skote af te vuur.

“Die beamptes het die verdagtes probeer nader, maar hulle het in die rigting van die Cato Crest-informele nedersetting laat spaander. Die verdagtes het terwyl hulle gehardloop het op die beamptes geskiet,” sê Gwala.

Gwala sê tydens die skietery is een van die beamptes in sy regter bobeen geskiet. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

“Een van die verdagtes (27), is dood in ʼn nabygeleë deurgang aangetref. ʼn Vuurwapen is langs sy liggaam gekry.”

Gwala sê die polisie het later nog drie verdagtes, tussen die ouderdom van 22 en 32, in die Cato Crest-informele nedersetting aangekeer. Een van die verdagtes was in die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

“Die verdagtes se agtergrond sal nagegaan word om te kyk of hulle met enige ander misdade in Cato Manor en ander omgewings verbind kan word,” sê Gwala.

Die drie verdagtes sal na verwagting Maandag in die Durbanse landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord sowel as die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die gewonde polisiebeampte ʼn spoedige herstel toegewens. “Misdadigers moet weet beamptes sal hulself verdedig as hulle aangeval word,” sê Jula.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Dit is dan wanneer onskuldige mense in die Spervuur beland en seerkry.
My vraag is wat staan die Polisie te doen want die gemeenskap hou hulle altyd verantwoordelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.