Een dood, talle gesoek ná oproer by Lindela

Buitelanders wat Sondag van ‘n repatriasiesentrum in Krugersdorp gevlug het in ‘n skermgreep van ‘n video wat op sosiale media gedeel is. (Foto: X/@RushNews5)

ʼn Onwettige buitelander is by die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersdorp dood en talle ander het ontsnap ná twee afsonderlike voorvalle die afgelope paar dae by die sentrum.

Die departement van binnelandse sake het nou ʼn interne ondersoek na EnviroMongz, wat die fasiliteit namens die departement bestuur en veiligheidsdienste lewer, geloods. Dít nadat 69 buitelanders sonder die nodige dokumentasie en wat deportasie by die sentrum afgewag het, Sondag ontsnap het.

Luidens ʼn verklaring van die departement het ʼn onderonsie tussen die aangehoudenes en die EnviroMongz-bestuur en sy veiligheidsdienste uitgebreek. Die voorval het Sondag omstreeks 11:50 gebeur.

Siya Qoza, departementele woordvoerder, sê die onwettige immigrante het tydens dié voorval ontsnap.

Die departement is ook ontevrede oor die omstandighede en die wyse waarop die ontsnapping plaasgevind het.

“Ons glo die bestuursmaatskappy en sy veiligheidsdiens kon meer gedoen het om hierdie voorval te voorkom. Die kontrak word dus hersien om op die beste plan van aksie te besluit.”

As ʼn onmiddellike ingryping het die departement reeds die toegangsbeheer by die hek aan ʼn ander veiligheidsmaatskappy toegewys terwyl die saak ondersoek word.

Ten tyde van die ontsnapping het die fasiliteit 1 521 buitelandse burgers sonder die nodige dokumentasie gehuisves wat op deportasie gewag het. Die 69 wat ontsnap het, was deel van dié groep.

Die meeste van dié mense sou vandeesweek gedeporteer word. Ondanks die gebeure gaan die departement steeds voort met sy geskeduleerde plan om burgers na hul land van herkoms te deporteer.

Die geskeduleerde deportasies is na Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Eswatini en Zimbabwe. Altesame 622 mense is reeds gedeporteer.

Verlede week het die departement ook 1 050 mense na Malawi, Mosambiek en Zimbabwe gedeporteer.

Intussen het EnviroMongz die departement ook in kennis gestel dat daar vroeër Maandagoggend nóg ’n ontsnappingspoging was. Dit is egter dadelik in bedwang gebring.

Een van die mense wat deel van Maandag se ontsnappingspoging was, is dood weens “beserings wat glo tydens die tweede ontsnappingspoging opgedoen is”.

Die polisie ondersoek nou hierdie voorval, asook Sondag se ontsnapping. As deel van die ondersoek het die polisie twee veiligheidsbeamptes in hegtenis geneem, sê Qoza.

Intussen werk die departement saam met ander wetstoepassingsagentskappe om diegene wat ontsnap het, op te spoor. Een persoon is reeds weer aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Lekker plek die! Kom en gaan soos jy wil, hulle sal deporteer maar volgende week is hulle weer terug in die land van melk en heuning!

Bolandse Nooi ·

Aaaaaggggggggggggg ……… wat is nuus? Van die 1672 wat oor die afgelope 2 weke terug gedeporteer is, is 1505 alweer terug in die land (90%).

Michael ·

Hoekom word bestuur van sulke instansies oorgelaat aan persone wat nie bevoeg is om 5 beeste te versorg nie.

Oujongvrou ·

Waar is die weermag en polisie. NEE, daars privaat mense wat tien teen een met geen opleiding aangestel teen paar miljoen om die werk te doen. Ek gee op. Geen wonder ons kinders gaan strepe uit hierdie land vort nie.

Pierre ·

Die wat poste verlaat het en selfs vir die mense gewaai het moet as medepligtiges tor ontsnapping aangekla word.

Anel ·

Stuur almal terug waar hulle vandaan kom. Ons kan nie vir hulle ook sorg nie. Verder, maak hulle bekend dat as hulle weer hier kom, almal weet dat hulle onwettig is.

Alex ·

Eerstens kos dit geld om hulle te deporteer. Tweedens, wie betaal daarvoor? Derdens more is hulle weer terug ten danke van geen grensdrade en grens beheer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.