Een vas ná moord op Mpumalanga-boer

Die gesteelde Toyota Hilux-bakkie waarin die verdagtes gevlug het. (Foto: SAPD)

’n 36-jarige verdagte is Maandag in eMalahleni (Witbank) in hegtenis geneem in verband met die moord op Johan Nortjé op sy plaas in die Badfontein-omgewing naby Lydenburg in Mpumalanga.

Dié verdagte is tydens ʼn struweling met ʼn polisiebeampte in die bobeen geskiet en beseer.

Nortjé is Sondagoggend omstreeks 06:30 deur twee verdagtes op sy plaas oorval en doodgeskiet toe hy sy huis verlaat het. Die verdagtes het ook sy vrou, Susan, in die huis aangerand en vasgebind. Die verdagtes het onder meer vuurwapens, bankkaarte en selfone gesteel voordat hulle in Nortjé se wit Toyota Hilux-bakkie gevlug het.

ʼn Saak van moord en roof is geregistreer en die polisie het kort daarna inligting ontvang dat een van die verdagtes hom in die Witbank-omgewing bevind.

Die geweer wat die polisie by die tweede verdagte se huis gevind het. (Foto: SAPD)

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die SAPD se K9-eenheid in Lydenburg ʼn soektog naby ʼn huis in Spring Valley in Witbank uitgevoer toe twee verdagtes in ʼn wit Toyota Hilux-bakkie verby beamptes gery het.

“Die polisie het die verdagtes agternagesit om hulle vas te trek. Die bakkie het tot stilstand gekom en die verdagtes het uitgespring en te voet gevlug,” het Mohlala gesê.

“Die polisiebeamptes het ook uit hul voertuie gespring, hulself in twee groepe verdeel en die verdagtes afsonderlik gejaag. Een van die verdagtes het agter ʼn sinkhuis weggekruip waar ʼn polisiebeampte hom opgespoor het. Die verdagte het die polisiebeampte se vuurwapen probeer gryp en ʼn struweling het ontstaan. Die verdagte is gevolglik in die bobeen geskiet en beseer.”

Die gesteelde Honda. (Foto: SAPD)

Die verdagte is daarna in hegtenis geneem en van moord en roof aangekla. Die tweede verdagte het van die polisie weggekom en is steeds soek.

Die polisie het verder beslaggelê op ʼn wit Toyota Hilux-bakkie, ʼn 9 mm-pistool en ammunisie.

Daar is ook beslaggelê op ʼn Honda CRV wat na bewering deur die 36-jarige verdagte in die omgewing agtergelaat is. Voorlopige ondersoek dui daarop dat dié voertuig tydens ʼn gewapende roof in Oktober verlede jaar gesteel is.

Mohlala sê die polisie het verder op ʼn vermoedelik gesteelde vuurwapen afgekom by die huis waar die tweede verdagte woon.

“Die ondersoek duur voort met die hoop om dié verdagte in hegtenis te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

gpsa ·

Puik werk dankie SAPD, hoop bewys stukke word ordentlik gedokumenteer. Hoop nou die regs mense doen ook hulle werk.

Nicholaas ·

Knap gedaan, ek verbaas om te hoor daar nog polisies wat verdagtes te voet agternasit.

piet ·

As hulle fikser was, het die ander een dalk nie weggekom nie..

Marcello ·

Ja, ek glo daar is nog goeie Polisiemanne in ons mag. Ek het verlede jaar met van hulle te doen gekry, oor die algemeen was hulle puik. Behalwe een wat arrogant en ongeskik met my was.

Lee ·

Ons is altyd vinnig om oor die swak diens van talle polisie beamptes te kla maar ons moet ook die goeie diens van die talle ander beklemtoon.Knap gedaan SAPD!

Althes ·

Uitstekende werk SAPD! Daar is nie plek vir geweldenaars en gewapende rowers in SA nie.
Onskuldige mense wie hul daaglikse brood probeer verdien, word uit gierigheid en ‘ek is te lui vir ñ werkie – ek is geregtig op ander se besittings’ mentaliteit vermoor.

Kokerboom ·

Baie sterkte aan familie. Nog ‘n moord te veel! Welgedaan SAP

Blikkies ·

Bly om te lees die Polisie begin nou orals toeslaan en terug baklei. Goeie werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.