Eerste museumteater in SA open deure by Voortrekkermonument

Dr. Danie Langner gee die openingstoespraak. (Foto: Verskaf)

Die heel eerste museumteater in die Suidelike Halfrond het Vrydag amptelik sy deure by die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria geopen.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, is die doel van die teater om die geskiedenis ʼn lewendige werklikheid vir mense te maak, en hulle deel daarvan te laat voel.

Hierdie museumteater vertel die verhaal van die Afrikanervrou se opstaan van 1902 tot moderne tyd. Die toeskouer word van vertrek na vertrek geneem waar die geskiedenis op ’n interaktiewe en teatrale wyse vertolk word. Karla Hoogendoorn en Eduan Naudé vertolk die rolle.

“Die museumteater is ’n unieke manier om die geskiedenis te vertel. Geskiedenis is nog nooit in Suid-Afrika óf Afrika op hierdie manier vertel nie,” sê Langner.

Eduan Naudé en Karla Hoogendoorn is die akteurs by die museumteater. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

’n Paar fokusgroepe, wat die teater besigtig het, se terugvoer is baie positief.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring en ek kan nie anders as om net trots te voel en te weet dat daar ’n groot, groot toekoms vir ons wag nie,” sê Zydelia Venter van Akademia.

“Ek kon identifiseer met sommige van die vertrekke in die uitstalling. Die teater gee werklik ’n blik op 120 jaar en dit is soveel om in te neem. ’n Ongelooflike ervaring.”

“’n Mens kry ’n nuwe perspektief op die geskiedenis. Dit is werklik ’n ervaring,” sê Morné van Jaarsveld, ʼn leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Langner is opgewonde oor die opening van die museumteater vir die publiek.

“Uiteindelik is die teater ook ingestel op toekomsbou, hoop en die verskil wat elkeen in hierdie land kan maak.”

Die publiek kan reeds hulle plekke bespreek deur hierdie skakel te volg of deur ’n e-pos te stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

trotsNAMSA ·

Wat sou die ABO of enige ander konflik sonder ons Afrikaner vroue geëindig het ? Dankie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.