Eerste varkpesgeval in die Wes-Kaap

Foto ter illustrasie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die gevreesde varkpes, wat ʼn varkboer dwing om sy hele kudde van kant te maak as dit op sy plaas uitbreek, het vir die eerste keer in die Wes-Kaap uitgebreek. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) en die Wes-Kaapse departement van landbou het die geval bevestig.

Die siekte het op twee kleinboere se plase in Mfuleni, noord van Khayelitsha, uitgebreek en is deur laboratoriumtoetse wat op monsters van die dooie varke gedoen is, bevestig. Ongeveer 5% van die varke het op elk van die twee plase gevrek en die siekte het die potensiaal om albei kuddes uit te wis.

Daar is intussen ʼn verbod op die verkoop en vervoer van lewende varke vanaf Mfuleni geplaas om die verspreiding van die siekte te beperk.

Die Wes-Kaapse veeartsenydienste het ʼn opname begin om die omvang van die verspreiding van die siekte in Mfuleni en die onmiddellike omgewing te bepaal. Dit behels die versameling van verdere monsters van enige dooie varke op enige verdagte plaas. Die presiese oorsprong van die uitbreking is nog onbekend, maar dit kan bepaal word deur die leidrade wat die twee boere verskaf en ʼn studie van die bepaalde virus.

Die Wes-Kaapse departement van landbou het varkboere versoek om op te let na die welstand van hul diere en om skielike siektes en vrektes onmiddellik by die plaaslike staatsveeartsenykantoor aan te meld, sodat vinnig opgetree kan word om die verspreiding van die siekte te voorkom.

Sedert 2019 was daar gevalle in ander provinsies soos Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en die Oos-Kaap. Vanjaar is daar reeds talle uitbrekings in Gauteng in die Randfontein-, Tembisa- en Midvaal-gebied aangemeld. Verlede maand is die jongste uitbreking in die Vrystaat aangemeld, waar kontak met ʼn vlakvark vermoedelik ʼn rol gespeel het. Die jongste uitbreking in Noordwes is die afgelope weke in die Potchefstroom-omgewing aangeteken, nadat ʼn kleinboer heelwat varksterftes ondervind het. Die afgelope maand is daar ook ʼn enkele geval in die Thabazimbi-gebied in Limpopo aangemeld.

Die siekte word aan varke oorgedra deur kontak met besmette wilde- of plaasvarke, kontak met besmette mense, voertuie, toerusting of skoene, deur besmette voedselafval, voer of vullis te eet, of deur besmette bosluise gebyt te word. DALRRD doen ʼn beroep op boere om hul biosekuriteitsmaatreëls te verbeter en om die aanbevole voorkomingspraktyke in te stel.

Die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO) se dr Peter Evans sê dat die organisasie ontsteld oor die uitbraak is. “Dit is kommerwekkend dat ons al meer gevalle sien waar varke van onderliggende simptome soos asemhalings- en senuweeprobleme sterf, in plaas van bloeding wat ‘n tipiese oorsaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zombie ·

Verskeie dierspesies word wel ingeënt teen verskillende siektes, Anel.

Cherokee ·

Rooi is die kleur van gevaar en varkpes dui op gevaar vir varkboere. As ek varkpes ‘n logo kon gee, sou dit ‘n rooi oorpak dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.