ʼn Geskil tussen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en die City of Tshwane is blykbaar opgelos, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gesê.
Julius Malema, leier van die EFF, wou die stad dwing om ʼn ooreenkoms na te kom oor die gebruik van ʼn sportstadion in Atteridgeville as deel van sy verkiesingsveldtog.
Regter Sulet Potterill het gesê dit wil voorkom of die geskil nou opgelos is en het die dringende aansoek van die hofrol geskrap.
Die munisipaliteit het glo ʼn ooreenkoms, wat hy op 23 April met die party gesluit het om die Lucas Moripe-stadion op 3 en 4 Mei te gebruik, gekanselleer. Die party het in hofdokumente gesê hy het reeds R5 miljoen op die veldtog spandeer toe die ooreenkoms eensydig gekanselleer is.
Ngwako Tshwale, die stad se uitvoerende direkteur vir die departement van sport en ontspanning, het aangevoer die stad het binne sy regte opgetree toe die huurooreenkoms gekanselleer is, maar bevestig die kansellasie is intussen laat vaar.
Hy het gesê die aansoek is voortydig, aangesien die EFF nog op 30 April sy voorlegging moet maak aan die gesamentlike bedryfskomitee. -SAPA