Egpaar op gasteplaas oorval, beroof

Die Rondekuil-landgoed buite Durbanville. (Foto: Verskaf)

ʼn Egpaar het net ligte beserings opgedoen toe vier mans, gewapen met ʼn koevoet, hulle op ʼn gasteplaas naby Durbanville in die Wes-Kaap oorval en beroof het.

Die man, ʼn oudpolisiebeampte, is met ʼn sak braaihout in die gesig gegooi voordat hy die aanvallers uit die gehuurde kothuisie op die Rondekuil-landgoed geboender het. Sy vrou het haar duim in die voorval beseer.

Richard Promnitz, eienaar van die gasteplaas, sê dit is die eerste voorval van dié aard sedert die plaas 15 jaar gelede in ʼn gasteplaas omskep is. Strenger sekuriteit sal nou op die plaas aangebring word.

“Ons wil nie hê die plaas moet soos ʼn tronk lyk nie, maar ons sal dit moet doen om ons personeel en gaste te beskerm.”

Promnitz sê dat sy gaste op 3 Januarie omstreeks 22:30 in die afgeleë kothuisie oorval is.

Die vrou het in die een vertrek gesit en werk toe vier mans die kombuisdeur oopgebreek het. Die vrou het haar man geroep en dié het die mans uitgeboender.

Die aanvallers het wel ʼn beursie met R2 000 kontant sowel as ʼn skootrekenaarsak gesteel. Die sak het foto’s van sentimentele waarde vir die gaste bevat.

Promnitz sê hy het dadelik ná die voorval gereageer en die polisie ontbied wat binne 12 minute op die toneel was.

Daar word vermoed dat die aanvallers buitelanders was. “Ons kliënt sê een van die aanvallers het Frans gepraat,” sê Promnitz.

Kapt. Marchell Rhode, plaaslike polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

pieter ·

Tragies , nerens meer veilig nie , dan wil hulle ons ontwapen , dan gaan dit nag word.

Swerwer ·

Mag nie moedeloos word oor die wetteloosheid in ons land wat die ANC veroorsaak nie, dit is hul lewenswyse, maar keelvol mag jy en dit dryf mens tot raserny. Hoe moet mense in die Gaste/Toeriste bedryf oorleef in hierdie land want jy weet nooit wanneer dit ‘n toeris/gas is en of jou lewe in gevaar is nie, weereens alles te danke aan die Kommunistiese ANC

Blomme ·

Jy is reg Swerwer.. Ons moenie moedeloos word en hoop verloor nie.. Maar hoe beheer jy die kommer. Aan die een kant word geveg vir herstel vd ekonomie en aan die ander kant word dit afgebreek… Arme Suid Afrika.

Harley Davidson ·

Seker ‘n Mosambieker wat portugees gepraat het.

Marcello ·

Hoop die gaste is van oorsee, dan kan hulle vir hulle landsgenote vertel, hoe onveilig dit in SA is, want die beeld oorsee word voorgehou dat ons die “arme bloedjies” mishadel en hulle geen regte>het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.