‘Eiendomsreg word opnuut bedreig’

Argieffoto (Foto: Tierra Mallorca / Unsplash)

Die Afrikanerbond wil dit weer onomwonde stel dat enige proses wat ʼn eensydige verandering in eiendomsreg voorstaan, nie aanvaar kan word nie.

Die Nasionale Vergadering se aanvaarding van die Konsepwetsontwerp is gevolglik baie teleurstellend, maar nie onverwags nie,” sê Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

“Die grondwetlikheid van die wetsontwerp moet opnuut bevraagteken word en dit is in hierdie stadium onvermydelik dat die ondeurdagte kwessie deur litigasie verder geneem sal word. Alle bestaande metodes en moontlikhede is nie naasteby ontgin nie. Die ontneming en onteiening van eiendom word nou slegs ʼn simbool vir politieke doeleindes.”

Maroela Media het vroeër berig die uiters omstrede wetsontwerp op onteiening is vandeesweek in die Nasionale Vergadering aanvaar, ondanks die teenkanting van die DA, VF Plus, IVP, EFF en ACDP.

ANC-LP’s, met die hulp van onder meer die NFP, Cope, Al Jama’ah en die NFP, het verseker dat die aanvaarding van die wetsontwerp deurgevoer word.

Die wetsontwerp sal nou na pres. Cyril Ramaphosa verwys word om dit te bekragtig. Dit sal onder meer onteiening van eiendom met nul-vergoeding onder sekere omstandighede moontlik maak.

“Daar moet geen twyfel by enige belanghebbende wees dat die ANC die kwessie van grond en eiendomsreg as ʼn verkiesingspeelbal gebruik en aangewend gaan word nie,” voeg Bosman by. “Die ANC-regering kan nie meer vertrou word met grond, eiendomsreg of selfs prosesse tot grondhervorming nie. Daarvoor is die bal te veel keer laat val en verbrou deur ʼn onbevoegde en onbekwame regering en onbeholpe beleidsimplementering met grootskaalse korrupsie.”

Bosman meen deur enigsins met ʼn onteieningsproses te begin veral as die “openbare belang” ideologies geïnterpreteer gaan word, is baie kommerwekkend. “Hoe dit ook al verdoesel word en deur watter drogredenasies dit geregverdig word, is ʼn eensydige verbreking van die 1994- nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996-Grondwet.”

Die Afrikanerbond het wel formele kommentaar ingedien in die proses, maar is ook reeds betrokke saam met ander instellings in die burgerlike samelewing om die kwessie deeglik te oorweeg.

“Eiendomsreg soos gewaarborg in die Universele Verklaring van Menseregte is nie ʼn kwessie wat in die ANC se faksiegevegte tuishoort nie en nog minder as partpolitieke kwessie as ʼn verkiesingspeelbal gebruik kan word. Die konsepwetgewing gee aan die ANC-regering die ruimte om arbitrêr grond te onteien en dit kan verdere enorme implikasies inhou vir sake en beleggersvertroue.”

‘Onteiening sonder vergoeding nie ʼn wondermiddel nie’

Steve Swart, parlementêre sweep van die ACDP, het intussen tydens ʼn toespraak in die parlement gesê sy party teken beswaar aan teen die verslag.

“Die meerderheidsparty het reeds gepoog om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Die ACDP en meeste ander opposisiepartye het teen die voorgestelde wysiging gestem. Ons glo die wysiging is nie nodig nie.”

Swart sê die ANC glo dat ʼn wysiging aan dié artikel met nul-vergoeding sal beteken dat kapitaal uit die land onttrek word en dit sal ʼn groot impak hê op buitelandse en plaaslike beleggings.

“Die siening van die ACDP, en talle ander Suid-Afrikaners, is dat hierdie wetsontwerp net nog ʼn poging is om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, veral wanneer artikel 12.3a, c en d in ag geneem word – wat privaat eiendom teiken.”

Artikel 12.3e hou spesifiek verband met eiendom wat as ʼn gesondheidsrisiko geag word. Hierdie afdelings laat nul-vergoeding toe.

“Die ACDP waarsku weer – net soos met die poging om artikel 25 van die Grondwet te wysig – dat, alhoewel daar ʼn behoefte is aan hervorming en restitusie oor die grondkwessie, onteiening sonder vergoeding nie ʼn wondermiddel is nie. Eiendomsreg, na ons mening, moet beskerm word. ʼn Versuim om dit te doen sal die waarde van die eiendom verwoes. Indien ʼn produk sy waarde verloor, kan dit nie meer verhandel word nie en ondernemings skuif na plekke waar hulle wel kan handel dryf.”

Die ACDP glo die wetsontwerp, in sy huidige vorm, is niks meer nie as ʼn populistiese politieke instrument om aan mag te bly vasklou, ongeag die gevolge. “Ons sal dit nie ondersteun nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Kyk FNB gaan huil want ek skuld hulle en as my eiendom gevat word dan betaal ek defnitief nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.