‘Ek is in beheer’, sê Malema tydens speaker-mosie

Julius Malema, leier van die EFF (Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema, EFF-leier, het Woensdag tydens die aanhoor van ʼn mosie van wantroue in die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), van die geleentheid gebruik gemaak om parlementslede te laat verstaan wie nou eintlik in beheer van die land is.

“Ek is in beheer,” het Malema herhaaldelik volgehou. “Ek het julle aan die skrotum beet. Daar is niks wat julle daaraan kan doen nie.” Malema het verwys na Maandag se betogings waartydens die EFF gepoog het om die land tot stilstand te bring. Volgens hom was dit ʼn dawerende sukses en het dit gewys die EFF is in beheer van die land.

Doris Dlakude, adjunkhoofsweep van die ANC, het op haar beurt die EFF as “anargiste en agente van vernietiging” beskryf met hul “populistiese en vernietigende gedrag”.

Die EFF het ʼn mosie van wantroue in speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula gebring nadat sy EFF-LP’s tydens pres. Cyril Rampahosa se staatsrede uit die sitting laat gooi het. Volgens Malema is dit duidelik dat die speaker haar mag misbruik om die reëls van die Nasionale Vergadering (NV) en die Grondwet te oortree en dat sy ʼn “marionet” van die regerende party is.

ʼn Totaal van 234 lede van die NV het teen die mosie gestem, 42 het ten gunste daarvan gestem en 73 het buite stemming gebly.

“Parlementêre demokrasie word dikwels verswak wanneer ons toelaat dat die parlement betrokke raak by die eng en populistiese agendas van diegene wat bloot hier is om betrokke te raak by politieke toneelspel en op pronkerige manier optree om ʼn naam vir hulself te maak,” het Dlakude gesê.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê die speaker moet meer doen om die waardigheid van die parlement te beskerm, al beteken dit dat lede wat hulle wangedra swaar beboet word deur die verbeuring van hul salarisse.

“Daar moet ook verstaan word dat die polisie se beskermingseenheid nie die persoon Cyril Ramaphosa beskerm nie, maar die aangewese president van die land.

“Die voorval van 9 Februarie vanjaar toe lede van die EFF die NV se verhoog bestorm het, het ʼn direkte gevaar vir die president geskep en die lede van die beskermingsdiens het dadelik ingegryp om hom te beskerm.

“Wat in die parlement as hoogste wetgewer in die land gebeur, stel ʼn voorbeeld aan almal in die land. Ook hoe meningsverskille onderling besleg word.

“Parlementêre reëls maak die boelie-taktiek tans moontlik en die speaker moet sorg dat dit verander. Daar moet streng reëls wees om mense af te skrik om die waardigheid van die NV aan te tas,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.