‘Ek is op ʼn goeie plek,’ sê boervrou ná verkragtings

Leonise Joubert (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Vir lank het die volmaan en toe deure vir Leonise Joubert (63) bang gemaak en teruggeneem na die aand van 4 Augustus 2020, toe sy en haar man, Chris (64), op hul plaas naby Dendron, Limpopo, aangeval is.

Drie mans het die aand by die egpaar se plaashuis ingebreek en vir Chris erg aangerand. Leonise is twee keer verkrag. Chris se 99-jarige ma, Betsie, was ook in die huis, maar het fisies ongedeerd van die voorval afgekom.

Presies twee jaar later, bly die fynste besonderhede van daardie bose aand Leonise nog by. Tog meen sy sy is op ʼn “goeie plek” en voel sy die gebeurtenis het haar lewe onherroeplik verander.

“Dit is ʼn proses en ʼn mens moet dinge dag vir dag vat. Jy maak die keuse om heel te word en nie toe te laat dat bitterheid die oorhand kry nie. Dit is ’n gedurige proses in afhanklikheid van die Here,” vertel Leonise.

Die drie verdagtes se verhoor sou twee weke gelede in die hooggeregshof in Polokwane begin het, maar is na 27 Februarie tot 10 Maart volgende jaar uitgestel.

Leonise sit in haar klaskamer by die CVO-skool in Vivo, waar sy al die afgelope jaar skoolgee. Haar oë sprankel en op die oog af sou ʼn mens nie sê dat hierdie boervrou ʼn slagoffer van ʼn plaasaanval was nie.

“Ek is nie ʼn slagoffer nie, maar ʼn survivor,” sê Leonise met ʼn glimlag op haar gesig. “Ek gaan nie toelaat dat die verkragtings my lewe oorneem en my identifiseer nie.”

Die aanval

Chris en Leonise Joubert (Foto: Facebook)

Die aand van die aanval het die volmaan ekstra helder geskyn en die honde was onrustig, maar die moontlikheid van  ʼn plaasaanval was nie eers ʼn gedagte nie, vertel Leonise. Sy en Chris was al in die bed toe sy vir Betsie vanuit die kamer langsaan hoor praat.

“Ek het na ouma se kamer toe geloop en gesien haar kamerdeur is toegetrek. Dit was vreemd, want haar deur is nooit toe nie. Ek het die deur ferm oopgemaak en drie gewapende mans op haar bed sien sit.

“Ek het verskriklik gegil. Dit was ’n onbeskryflike, onwerklike oomblik. My brein het gesê dis nou ons beurt. Dit is ʼn plaasaanval.”

Chris het uit die hoofslaapkamer gestorm, waar die verdagtes hom oorval het. Twee het hom oorrompel en hom vreeslik begin skop en slaan. Hulle het hom aan ʼn stoel vasgemaak.

“Die een man het my hardhandig rondgepluk en na ons slaapkamer gestamp en geld geëis. Hy het die kaste en laaie begin uitgooi. Hy het geskreeu: ‘Give me the money’ en die volgende oomblik het ʼn skoot afgegaan en ek is in my bobeen geskiet. Dit was nie onmiddellik seer nie, maar ek kon nie my voet voel nie.”

Sy vertel dat die man haar toe verkrag het.

“Ek het die gewaarwording gehad dat al sou ek dit nie gaan oorleef nie, hulle niks aan my siel kon doen nie. Ek was só bewus van Jesus se teenwoordigheid tydens hierdie onmenslike wreedheid.”

Die man is daarna uit die kamer met die egpaar se selfone, Chris se gewere en die tweerigtingradio. “Hulle het ook ouma se ringetjie, goue armband en Chris se ring gevat.”

ʼn Tweede man het die slaapkamer met ʼn bos sleutels binnegekom en gevra vir die Nissan Nirvana-bakkie se sleutel.

“Ek het vir hom verduidelik waar die sleutels hang, ook waar die twee hekke se sleutels is en met my hele hart gehoop dis die einde van die nagmerrie. Hy het egter die deur toegemaak en my ook verkrag.

“Dit was ʼn seëning dat ek eers geskiet is, want ek het tydens die verkragtings meer op my liggaam as gees gefokus. Ek het heeltyd vir myself gesê: ‘Moenie te veel daaroor dink nie, dis net jou lyf.’”

Leonise het gehoor hoe die mans die televisiestel uit die kas vat, en daarna het dit stiller geword.

“Ek het na ouma [Betsie] se kamer probeer skuif en vir Chris geroep. Hy het na my toe gekruip. Vir die eerste keer besef ek hoe ernstig sy beserings is. Sy oë het toegeswel en sy gesig was swart van die bloed. Hy het plasse bloed opgegooi. Hulle het hom erg verniel.”

Leonise het ʼn matmessie voor haar op die vloer gesien en Chris se hande losgesny. Hy het toe na die werkers se huis gegaan om hulp te kry. Met die een werker se selfoon kon hulle Leonise se broer bel, en oomblikke later het hulp arriveer.

Chris is omstreeks 02:00 per helikopter na ʼn private hospitaal in Polokwane gevlieg en Leonise het agterna in ʼn motor gekom.

“By die hospitaal het hulle x-strale geneem. My femur [bobeen] was gebreek en Chris se oogbanke vergruis.”

Mabena Moloko en sy twee medebeskuldigdes is kort ná die aanval in hegtenis geneem. Een van hul makkers is tydens ʼn jaagtog met die polisie doodgeskiet.

Moloko is die seun van die egpaar se huishulp. “Hy het soos ʼn kind voor ons grootgeword. Hy het ʼn maand voor die aanval vir die vakansie op die plaas kom woon om werkies te verrig vir sakgeld.”

Berusting en ʼn tweede kans

Leonise sê hulle was nou die eerste keer in die hof en dit het haar meer rustigheid gegee.

“Ek is bly ek kon ʼn prentjie kry van hoe die hofsaal lyk. Ek was so bang om hulle te sien, maar toe hulle die dag in die beskuldigdebank verskyn, het ek gevoel ek is orraait. Ek het besef hulle is nou waar hulle hoort en ek is nie meer hul slagoffer nie. Die Here was elke sekonde by my.”

Vir Leonise sal berusting kom sodra die hofsaak afgehandel is. “Ek sal graag hierdie boek wil toemaak. Mag só iets nooit weer met enigiemand gebeur nie.”

Leonise sê sy het die mans vergewe en is dankbaar vir ʼn tweede kans op die lewe.

“Ek sien hulle as jong mense wat ʼn fout begaan het en nou moet hulle die gevolge van hul aksies dra.”

Leonise het sowat ʼn jaar gelede by die CVO in Vivo begin skoolgee en Chris het ʼn werk by ʼn boer in die omgewing gekry. Die egpaar woon nou by die skool en verhuur die plaas.

Leonise wil met haar storie hoop vir ander skep en glo die Here het ʼn doel met haar en Chris se lewe.

“Dit is waarom ons nog leef. Ons verstaan nie als nie, maar kan hierdie geleentheid gebruik om ander hoop te gee.

“Aan die een kant het ons ’n brutale plaasaanval oorleef en aan die ander kant het ek twee verkragtings oorleef: Daardie wrede betreding van ’n vrou se lyf. Daar is soveel vroue wat al deurgegaan het wat ek beleef het. Ek wil hulle vertroos en herinner dat alhoewel hulle ’n mens se lyf kan steel, hulle nooit jou gedagtes kan beheer as jy dit nie toelaat nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Die boere moet paraat bly al het jy nog nooit ‘n insident gehad nie dit kan gebeur bewapen jouself woon kursusse by daardie terroriste moes nooit lewendig uit daardie plaashuis geloop het met die inwoners se vuurwapens nie.

miche ·

Haar verkragters reeds vergewe. Sy is ‘n beter mens as ek…

Snowball ·

Moloko is die seun van die egpaar se huishulp. Dit moet begin insink by almal wat nog huishulpe en werkers het dat hierdie mense in ‘n oogwink sal verraai, verkrag en vermoor. Leer om klaar te kom sonder hulle en as jy nie anders kan nie, wees die ergste te wagte en wees voorbereid daarop want eendag is dit dalk jou beurt om jou familie teen iemand te beskerm wie jy in goedertrou self by jou deur ingelaat het.

Christine ·

Ek kan nie genoeg saamstem met jou nie. Ek vertrou die mense glad nie, want meeste van hulle word groot sonder ‘n morele kode.

Harley Davidson ·

Ek stem saam die duitsers,Franse, Italianers werk almal self die boere het lui geword.

Swerwer ·

Leonise ek Salueer jou. Jy is ‘n baie beter mens as ek. Die haat ten opsigte van gebeurtenisse wat plaasvind maak mens opstandig maar jy is kalm, vergewe is dalk moontlik maar vergeet nooit!

Nettie ·

Leonise, jou getuienis is werklik ‘n voorbeeld vir ons almal. Mag ons ook Jesus se teenwoordigheid so sterk voel wanneer die ergste met een van ons dalk ooit moet gebeur. Jy is ‘n inspirasie, dankie dat jy jou storie kom deel het. Mag dit krag aan ander gee wat dit vandag nodig het. Daar IS hoop na so ‘n aanval. Daar kan weer lewe wees. Iets moois daarna wees.

Mag God al ons Boere en elkeen van hul families vashou wat al deur so iets was, wat iemand verloor het, wat swaar kry of seer kry agv wat in hierdie land aangaan. En mag Hy dit so vinnig moontlik begin stop. Sy Voet neersit en verklaar geen Boer word meer aangeval nie.

Markus ·

Tragies dat mens jouself kan wysmaak dat ‘die Here by my was’ wyl die teenkant ooglopend is: Óf hy wou nie intree nie….óf hy was nie daar om in te tree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.