‘Ek wou net my gesin beskerm’

ʼn Video wat wys hoe ʼn man desperaat baklei om vyf vermeende boewe van sy motor weg te keer, het Woensdag talle kommentare op sosiale media uitgelok (Foto: Skermskoot)

“Ek wou net my gesin beskerm.”

Só vertel die man wat as “Suid-Afrika se Rambo” gedoop is nadat hy Woensdag vyf vermeende boewe in die middestad van Klerksdorp, Noordwes, met ʼn mes van sy motor afgeweer het.

Dit is die tweede keer dat hy aangeval is en die man sê hoewel hy baie braaf voorkom, was hy op daardie oomblik vreesbevange.

“Al verduideliking wat ek kan gee, is dat die Here se engele ons daardie dag beskerm het.”

ʼn Video van die voorval is op sosiale media gedeel en het wyd kommentaar uitgelok. Inwoners van Klerksdorp het veral gal gebraak oor die toename van misdaad op hul dorp.

Die man het anoniem aan Maroela Media vertel sy vrou en dogter moes die dag na binnelandse sake om hul paspoorte te laat hernieu.

“Ons wou juis nie eintlik na die kantoorgebou in Klerksdorp gaan nie omdat dit so blerrie gevaarlik is daar. Ons kon ongelukkig nie by nabygeleë dorpe regkom nie en het op die ou einde ʼn aanlyn afspraak by Klerksdorp se kantoor gemaak.”

Die man het in die motor gewag terwyl sy vrou en kind by binnelandse sake was. Die motor was reg voor die kantoorgebou geparkeer.

Met hul terugkoms na die voertuig, het die man die motor se deure oopgesluit sodat sy vrou en dogter kan inklim. Toe sy vrou inklim, het sy dogter geskreeu: “Mamma, sluit jou deur!” Dit is toe dat hulle twee mans met messe by haar deur sien staan het.

Volgens die man het die rowers uit die bloute by die motor te voorskyn gekom.

Twee van die verdagtes het die vrou se deur aan die passasierskant oopgepluk en die man het van die bestuurderskant oorgebuig na sy vrou se kant toe.

“Genadiglik was my dogter se deur gesluit en hulle kon nie by haar uitkom nie.”

Die volgende oomblik het nog mans aan die bestuurderskant dié deur oopgeruk. Op die ou einde was daar altesaam sewe mans by die gesin se motor.

“Ek het met my mes uit die motor gespring en hulle probeer afweer. Ek het altyd my mes by my in die kar.”

Die man het met alles binne hom baklei om die mans te verwilder sodat hulle nie by sy vrou en dogter uitkom nie. Twee van die drie rowers aan die man se kant het messe gehad.

Tydens die skermutseling was die twee verdagtes aan die passasierskant steeds besig om in die motor te probeer kom, maar die vrou het hulle met haar voete buite gehou.

Ná ʼn ruk het die mans die aftog geblaas.

“Ek het dadelik in die motor geklim en gekyk of my vrou oukei is.”

Volgens die man het hy nie twee keer gedink om sy eie lewe op die spel te plaas om sy vrou en kind te beskerm nie.

“Enige man sou in só ʼn oomblik sy gesin beskerm het. Ek het net heeltyd gedink: Ek moet hulle wegkry van my vrou, kind en besittings.”

“Die regstelsel faal ons”

Die man het nie ná die voorval ʼn saak aanhangig gemaak nie en sê dit is omdat hy sy vertroue in die regstelsel verloor het.

“Jy gaan gee ʼn saak aan en dan word dit in elk geval uitgegooi of die verdagtes word op borgtog vrygelaat. Ons gewone mense voel die regstelsel het ons gefaal. Ons kan ook nie ons vertroue in die polisie plaas, wat veronderstel is om ons veilig te hou nie. Deesdae is mense selfs banger vir die polisie as vir misdadigers.”

Die man en sy gesin moes reeds ʼn paar jaar gelede ʼn gewapende rooftog deurmaak.

“Dit was traumaties, maar dit het ons ook geleer om meer paraat te wees.”

Die man sê dit is hoog tyd dat Jan Alleman begin opstaan teen die wetteloosheid in die land en mense hulself verdedig.

“Ek dink almal is gatvol vir wat in die land aangaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

melaney ·

Ek stem met hierdie man saam. Dit help nie om enige saak aan te meld by die SAPS nie. Indien die man net een van daardie skelms met sy mes bygekom het, was dit ‘n rasse aanval gewees en was hy nou agter tralies.

miavos ·

Hou julle huisdeure en motordeure TE ALLE TYE gesluit, ASSEBLIEF!

Wonderalweer ·

en hoe klim jy in??? Dis wat hier gebeur het, hulle was besig om in hulle motor te klim.

Vexed ·

Hyenas is beter, hulle het tenminste ‘n gedragskode, maar die spul… ek verstaan egter wat jy bedoel.

Kokerboom ·

Kom ALLE redelike landsinwoners..laat ons ons land terugneem!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die redelike inwoners gaan gewoonlik tronk toe…..

Papsak ·

Bravo mooi gedoen ons moet almal ons maar verdedig teen hierdie wildehonde

Hector ·

My vraag is: Wat sou gebeur het as die man met ‘n vuurwapen gewapen was ipv’n mes? Wat sou gebeur het as hy van die aanvallers doodgeskiet het?

Ons weet almal wat sou dan gebeur het. Rambo sou vandag in die tronk gesit het, en dit sou hom uiteindelik miljoene rande aan regskoste gekos het om daar uit te kom. Dit is die bisarre waarheid van die wonderlike Suid-Afrika waarin ons tans woon.

Die leeus het die wyk geneem, en die hiënas regeer (met erkenning aan Walt Disney se Lion King).

VaalDonkie ·

‘n Geregtelike doodsondersoek sou geopen word en as hulle bevind het hy of sy familie was in gevaar, sou die saak net daar gesluit wees. Moenie so vals nuus versprei nie.

twaalfboor ·

VaalDonkie. Dis etopia waarvan jy praat. Dit gebeur ongelukkig nie so nie. GEEN geregtelike doodsondersoeke word gehou nie. Die wapen word gekonfiskeer, jy word aangekla vir moord, en moet jou saak in die hof gaan verdedig. Dis die HARDE realiteit en feite.

ES ·

Hector, nee. Hy sou nie in die moeilikheid gewees het nie, hy sou geregverdig wees om die verweer van noodsaaklikheid te gebruik as verdediging.

Die 3 beginsels van selfbeskerming was daar: die aanval is besig om te gebeur, die aksies is onwettig, en jou lewe of die lewe van ‘n 3de party moet in gevaar wees.

Die wet het geen vereiste van watter tipe wapen jy hoef gebruik te maak om jou lewe te beskerm nie – jy kan jou lewe op enige wyse beskerm.

Cherokee ·

Probleem sal wees ‘n gekonfiskeerde vuurwapen in besit van die polisie totdat die ondersoek eendag afgehandel is en die vuurwapen terug gegee word. Intussen is mense wat hulself verdedig het, ongewapend en dit is algemene kennis hoe lank ondersoeke sloer. Daarom beter om twee vuurwapens te hê.

Swerwer ·

Jy Mnr Anoniem is ‘n held. Ons Hemelse Vader se beskerming is groot. Dankie dat jy so verbete terug geveg het en die lamsakkige leegleêrs die hasepad gekies het.

Waarnemer ·

Rambo gaan koop vir jou n Z88 en volgende keer skiet jy dood….dooie getuies kan nie praat nie.

Mallie ·

Ons het meer van jou soort nodig meneer. Dan sal ons land se misdaad net dalk minder word.

Sterling ·

Wel gedaan Oom! Kop gehou en die booswigte se aanslag afgeweer.

Ek sou wel aanbeveel, al word die saak uit gegooi of al word hulle vrygelaat op borgtog, gaan maak nogsteeds ‘n saak oop. Anders, as niemand meer sake open nie, gaan kyk hulle na voorvalle vir 2021 en vergelyk dit met 2022: Dan word verkeerde gevolgtrekkings gemaak, want gewapende roof of poging van gewapende roof voorvalle het afgeneem, so Breeband-Cele lyk goed en daar word gesê die polisie doen hul werk. Tog is dit natuurlik nie die geval nie. So, kry die feite of die statistiek in die stelsel!

Soos daai gesegde lui:
“Al wat nodig is vir die boosheid om te wen, is dat goeie mense niks doen nie”

Marianna ·

Klerksdorp is ‘n vuil plek. Alles het hier in duie gestort. Mens kan dit nie in die midde-dorp waag nie. Jy word aangeval en beroof soos die man. Wil ‘n mens nog in SA bly?

Mariana ·

Wel gedaan meneer. Bly julle het nie ernstige beserings opgedoen nie. Kriminele het nou SA oorgeneem en steeds word niks gedoen nie en steeds raak dit al hoe erger. Nêrens meer veilig nie.

ES ·

Knap gedaan Oom!

Maak tog net ‘n saak by die SAPS, al kom daar niks daarvan nie – ons het nodig om statistieke te kan bewys sodat dit makliker word vir ons wetsgehoorsame burgers om vuurwapens te kan bekom sodat ons hierdie booswigte skrik op die lyf kan jaag.

Wat vir my woedend gemaak het was hul arrogansie toe hul rustig wegloop. Hulle moet begin om hul slagoffers te vrees!

JohanR ·

En dis jys waar al die gemors rondhang buite binnelandse sake. Dink ek gaan vir my ‘n panga kry daar by Builders en hom onder my sitplek los.

Toy ·

Mens is dik vir die geweld in die land. Daar is duidelik mense wat nie in vrede wil lewe nie. Maar daar word mos geskreeu shut up, shut up and sit. Belaglik hoe dit gaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die man kan verwag dat die MRK se amptenare op hom gaan toesak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.