Ekurhuleni-metro sê hy sal grond sonder vergoeding onteien

Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni. Foto: eNCA

Die burgemeester van Ekurhuleni se voorstel om vier stukke grond so gou moontlik sonder vergoeding te onteien en dadelik dorpsgebiede daarop te ontwikkel, is met ʼn gemaklike meerderheid aanvaar.

“Ons wil hê die Stad Ekurhuleni moet aan die voorpunt van grondhervorming in Gauteng wees,” het Mzwandile Masina op gister se raadsvergadering van dié Oos-Randse metroraad gesê. “Ons wil die eerste metro in die provinsie wees wat grond sonder vergoeding onteien vir die doel van menslike nedersettings.”

Die burgemeester sê die raad wil dit doen om artikel 25 van die Grondwet te toets. Die grond wat die raad wil onteien, beslaan altesaam 344,2 ha, waarvan 205 ha staatsgrond is.

“Dit is belangrik om hierdie maatreël net vir ʼn bepaalde doelwit te gebruik,” het hy gesê. “Ten einde streng voldoening aan artikel 25 te verseker, was die eerste stap om enige willekeurigheid en/of onredelikheid in ons optrede uit te skakel, wat ondersoeke na die moontlikheid van alternatiewe eiendom of die beskikbaarheid van minder ingrypende stappe insluit.”

Phillip de Lange DA-leier in Ekurhuleni. Foto: Facebook

Maar Phillip de Lange, DA-leier in Ekurhuleni, beskuldig die burgemeester van roekeloosheid. “Dis voortydig omdat die parlement einde November sal besluit wat moet gebeur en wat die raamwerk sal wees wat hulle gaan gebruik vir onteiening.”

Gevra hoe dit gebeur het dat Ekurhuleni staatsgrond wil onteien, sê De Lange die munisipaliteit se register van grondeienaarskap is in so ʼn warboel, hulle het eers later besef die stuk grond in Benoni, waarop mense hulle reeds gevestig het, behoort aan die owerheid. “Die staat het nooit erfbelasting op daardie grond ingevolge die beginsel van samewerkende regering betaal nie.”

De Lange sê hy het die burgemeester op gister se raadsvergadering, waartydens die mosie om die grond te onteien met 109 teen 77 stemme aanvaar is, gevra of hy weet wie die vier stukke grond besit. “Hy het ja antwoord. Ek het hom toe gevra of hy in verbinding getree het met die eienaars. Sy antwoord was nee.

“Dit beteken hy kan môre-oormôre besluit om enigeen se grond te vat sonder om met hulle te praat, vir enige doel wat hy wil.”

De Lange meen die burgemeester is bekommerd omdat die ANC steeds steun in Gauteng afstaan, omdat hy ongewild is weens sy verbintenis met die Zuma-faksie in die party en omdat die EFF “die grondkwessie dryf” en so die wind uit die plaaslike ANC se seile neem.

Agri SA het die burgemeester Vrydagoggend van “ʼn ernstige ondermyning van Suid-Afrika se regsraamwerk” beskuldig omdat hy “suggereer dat eiendom summier onteien kan word sonder enige vergoeding”. Die beginsel van vergoeding vir grond wat onteien word, geld vir alle regeringsfere – munisipaal, provinsiaal en nasionaal, sê die landbouorganisasie.

“Politici kan nie regsuitsprake maak nie; slegs die howe kan,” het Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. Foto: Facebook

Die organisasie sê enige onteiening kan net vir ʼn regmatige doel uitgevoer word kragtens wetgewing wat die magte van onteiening bied. Die Grondwet vereis dat regverdige en billike vergoeding betaal word.

Dit verskans ook die reg om enige dispuut oor vergoeding na ʼn hof te neem, sê Agri SA. Die howe behou die gesag om te besluit wat die vlak van billike vergoeding moet wees, kragtens relevante wetgewing en die Grondwet.

Masina het op die raadsvergadering aangevoer die besluit is in openbare belang geneem. “Die stadsraad moet dadelik optree om sy behuisingsuitdagings die hoof te bied.” Hy meen die stadsraad het ʼn wetlike plig om behuisingsgeleenthede beskikbaar te stel en sê die stadsraad doen dit onder meer deur grond aan te koop vir behuisingsdoeleindes.

Phakamile Mbengashe, die burgemeester se waarnemende woordvoerder, het Vrydagmiddag onderneem om skriftelike terugvoer op Maroela Media se vrae oor die kwessie voor die einde van die dag te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Willem ·

Waar is dié plek? Help aub Maroela, ons is nog nie by al die straat en plekname wat verander is nie. Ek waardeer.

Rasper ·

Oeps…. Net te vroeg. Wat ook interessant is, is om te sien hoe AgriSA hierdie situasies in die toekoms gaan hanteer. Ek hoop die ANC is reg vir al die “sterk bewoorde” briewe, en “tong in die kies” slegsê vanaf AfriSA.

Anoniem ·

Oops, hier kom moeilikheid en ‘n Burgemeester wat met ‘n Rooi gesig gaan rondloop ! Kyk wat gebeur as Jy die wiel voortydig wil oorontwerp ???????? ??

Johan ·

Dit will voorkom as of die ANC almal grond toe gaan vat, net om te verseker hy meer stemme kan kry vir die verkiesing. Hulle weet hulle gaan baie stemme verloor agv hulle bedrog spil. Dit is net ‘n jammer dat ons as SA, die korste ent gaan trek vir hulle geld gierigheid. Hulle doen niks vir niemand nie, net vir hulle eie geld sake. Die mense wat nog vir die goed stem, is net so skuldig soos hulle leiers. Hulle ondersteuners bly in Shacks en eet saam met die rotte hulle kos, terwyl hulle meesters en hulle vriende in die unies, steaks eet en in huise bly wat miljoene werd is

Eish ·

Dit moet nou maar kom en verbygaan.
Daar is geen keer aan OSV nie, net n bietjie aandagafleidende woordgimnastiek en n vuurwerkvertoning vooraf en n paar buitelandse oëverblindende knolstories. Agri SA gaan gou besef hy is n juniorvennoot in die praatparade. Wanneer die handeklapsessie verby is, is dit op ons.

Se maar net ·

En o ja dit sal net wittes se grond wat hul gaan vat niemand anders sn. Wonder wie is nou die onderdrukkers in die land!

Ekurhuleni Resident ·

Ja nee kyk Ekurhuleni se Burgemeester is in elk geval nie “the brightest crayon in the box” nie. Maar dis tipies ANC. Jaag net aan want hulle soek stemme voor 2019 verkiesing.

Afrikaanse Knaap ·

Ek is myself nou moeg vir hierdie storie. Dit raak nou uitgerek. Kan ons asb oor die #Volkstaat en die #Doodstraf begin praat.

Cherokee ·

Eerstens is dit sterk te betwyfel dat die swartes na ‘n Volkstaat sal trek en tweedens kan jy gerus vertel met watter outoriteit in hierdie forums oor die doodstraf kan praat. Praat, praat praat sonder onderhandeling bly net praat praat praat. Dit is ongelukkig so dat besluitneming by die massas berus, nie by ‘n groepie vriende wat om ‘n kampvuur sit en gesels nie.

Cherokee ·

Ek dog jy wil praat. Nou het ek vir jou ‘n geleentheid geskep en jy bly tjoepstil. Selfs 6 ure later. Moet net die ànder praat of wil jy saamgesels? Die vloer is joune.. praat!

Brutus ·

Hy kan sy eie grond onteien. Los private eienaars se grond uit dit is hul reg om grond te besit as hul daarvoor betaal.

bgj van der westhuizen ·

hy het baie bek dit lyk my die dom regering kan nie leer uit ander lande se voute nie

Willie Mynhardt ·

Hulle kan nou nie eers die basiese dienste verskaf nie, naar hulle wil nog meer mense inbring.
Hele Oosrand is besig om een groot rommelhoop te word.
Vullis in kempton park is groot gemors
Strate is vuil sypaadjies meer vuilgoed as sypaadjie.
Lisensie kantore choas
Drug dealers run middestad
En so kan mens aangaan, maw hoe meer sulke behuising ingebring word hoe meer sal die gewone middelklas moet opdok.
Die mense weet nie van om te betaal vir munisipale dienste nie en daar is geen wetstoepassing al betaal hul nie.
Dus resep om van oosrand een groot gemors te maak

Alida ·

Hy het nog nie gesien hoe vang slim sy baas nie! Sal gou sy fout agterkom.

Piet ·

Nou ja hier is die selfde geval as Akkeland die grond het al reeds n navrae vir mynreg om steenkool te ongin en dit is net voor bapsfontein die geveg gaan nou begin

Chris van Heerden ·

Wat my gat se deksel is hulle kan nie eers die paaie in die bestaande grond waar die mense bly in standhou nie. Ek het altyd baie in die townships gewerk maar deesdae vermy ek dit omdat ek bloot nie met my kar daar kan ry nie. Hoekom maak die ANC munisipaliteite dit reg nie. Hoekom is daar soveel strate wat nie name het nie. Wat wil hulle met die grond maak? Onteien en dan laat vergaan? Daar is derduisende hektaar grond om die dorpsgebiede wat aan die munisipaliteite behoort. Hoekom is daar nog nie huis opgebou nie, of is dit bloot omdat dit nie aan ’n wit mens behoort nie?

Oom Kalahari ·

Hierdie Ekhuruleni klonkie is besig om die leeu se hare deurmekaar te krap en dink hy het mag om te maak soos hy wil. Natuurlik sal hy meerderheid stemme verkry want hul is mos die meerderheid plus klein partytjies wat baie graag wil saam tango.

Casper Labuschagne ·

En hier is nog ‘n ding wat ek gesê het, nou bewaarheid. Wanneer onteiening wettig word sal dit afskaal na munisipale vlak en dieselfde uiters korrupte en grotendeels onbevoegde kaders wat na jou plaaslike munisipale gebou ontplooi is, sal nou besluit wat, waar en wanneer hulle wil onteien. Hierdie nagmerrie word net erger en dit het al die aanduidings dat dit inderdaad nie ‘n nagmerrie is nie maar ons werklikheid. Ons moet nog net self wakkerword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.