Elektrisiën as gyselaar gehou oor kragonderbreking

(Foto: Zakysant via Wikimedia Commons)

Die Tshwane-metro het die kaping en ontvoering van een van sy elektrisiëns sterk veroordeel en sê nog sulke gevalle sal woongebiede langer as nodig in die duister laat.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê ʼn stelseloperateur is vroeër vandeesweek by die Soshanguve-depot gekaap en as gyselaar gehou.

“Die vermeende kapers het met hom in die gebied rondgery en hom probeer dwing om die noordelike dele van Soshanguve, wat ʼn kragonderbreking ervaar het, se ligte weer aan te sit,” sê sy.

“Gelukkig het die operateur daarin geslaag om weg te kom en die metro is dankbaar dat sy lewe gespaar is.”

Die metro het die jongste aanval op sy personeel veroordeel en sê die gevolge hiervan gaan nou deur al die inwoners van Soshanguve gevoel word.

Sedert die voorval Woensdag het die metro al sy spanne wat in Soshanguve werksaam is, opdrag gegee om nie in die woongebied te gaan nie om die toerusting en die personeel te beskerm.

ʼn Private veiligheidsmaatskappy en die Tshwane-metropolisie (TMPD) is intussen ook versoek om dele van Soshanguve te patrolleer vir enige verdere aanvalle.

“Die voortslepende aanvalle op stelseloperateurs het ernstige gevolge, aangesien dit dienste aan inwoners tot stilstand ruk,” sê Mashigo.

“Die metro maak staat op die gemeenskappe wat die dienste benodig om elektrisiëns en ambagsmanne teen kriminele elemente te beskerm.”

Die Tshwane-metro het opnuut ʼn beroep op die publiek gedoen om die intimidasie, aanranding en afdreiging van personeel en die beskadiging van die stad se bates en infrastruktuur te staak.

“Dié tipe kriminele gedrag maak dit al hoe moeiliker vir die metro se personeel om op diensleweringonderbrekings te reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.