Elektronika-fabriek in puin ná brand

(Foto: Verskaf)

Verskeie aanlegte van ʼn elektronika-fabriek in Ga-Rankuwa is Sondagaand deur vlamme verswelg.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, is nooddienswerkers omstreeks 18:30 na die brandende fabriek ontbied.

“Verskeie eenhede van SVA Electronics was reeds in vlamme gehul toe brandbestryders op die toneel aangekom het.”

(Foto: Verskaf)

Mabaso sê twee brandweerwaens, twee watertenkwaens en ʼn brandweer-leervragmotor is na die toneel gestuur om die vlamme in bedwang te help bring.

“Die watertenkwaens is gebruik om water vir die brandbestrydingsoperasie aan te ry weens die gebrek aan brandkrane naby die fabriek.”

Volgens Mabaso moes brandbestryders en fabriekswerkers talle 25 kg-sakke polipropileen asook dromme met metieletielketoon na veiligheid skuif om te verhoed dat dit ook aan die brand slaan.

“Daar is nog nie vasgestel watter ander vlambare chemikalieë in die fabriek was toe die nagenoeg twintig aanlegte vlamgevat het nie,” sê Mabaso.

Brandbestryders het tot Maandagoggend gespook om die brand te blus en afkoelingswerk het ʼn kort ruk gelede nog voortgeduur.

Geen beserings is aangemeld nie.

“ʼn Skadebepaling kon nog nie gedoen word nie en die oorsaak van die brand word ondersoek,” sê Mabaso.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janine ·

“Die watertenkwaens is gebruik om water vir die brandbestrydingsoperasie aan te ry weens die gebrek aan brandkrane naby die fabriek.” WAAR is daar werkende brandkrane?

Bolandse Nooi ·

UHM …………….. OK, ‘n elektronika-fabriek wat – o.m. – grootmaat polipropileen en dromme met metieletielketoon stoor EN GEEN BRANDKRANE in die nabyheid nie??? Ehhhhh …………….. “Dês Êfrika for joe” … dis al wat ek kan sê.

Johan ·

Ek wet jou ook dat daar geen ontploffings beskerming op daardie fabriek was nie.

Bolandse Nooi ·

100% reg. As ek darem kyk deur hoeveel “loops” my werkgewer moet spring om te voldoen aan plaaslike brandveiligheid-, munisipale- en versekeringsregulasies … dan kan ek nie dink dat ‘n hoë-risiko besigheid, wat hoog-vlambare basisstowwe in groot maat op die perseel aanhou, kon wegkom met geen industrie- en produk-verwante brandbestrydingstoerusting en werkende brandkrane nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.