Enigste poskantoor op Makhanda al nege maande sonder krag

Die enigste poskantoor wat in Makhanda oop is, het al vir nege maande nie elektrisiteit nie (Foto: Loyiso Dyongman/GroundUp)

Deur Loyiso Dyongman, GroundUp

Die enigste poskantoor op Makhanda in die Oos-Kaap sit sedert Julie verlede jaar sonder elektrisiteit.

Klante is woedend oor rekenaars wat nie werk nie en dienste wat gevolglik nie gelewer kan word nie. Maar hulle is veral vies omdat hulle nie die TV-dekodeerders wat hulle bestel het, ontvang nie.

Die poskantoorperseel, in Highstraat, word van ʼn private eienaar gehuur. Volgens ’n bron van die munisipaliteit, wat anoniem wil bly, het die eienaar opgehou om die kragrekening by die munisipaliteit te betaal nadat die poskantoor opgehou het om huur te betaal.

Die munisipaliteit het die elektrisiteit uiteindelik in Julie verlede jaar afgesny.

Die Poskantoor is amptelik in sakeredding. Anoosh Rooplal, die sakereddingspraktisyn, het bevestig dat die eiendom gehuur is, maar het nie op ander vrae gereageer nie. “Wat ek wel kan sê, is dat Makhanda-poskantoor oop moet bly,” het Rooplal gesê.

Navrae is verlede week al aan die munisipale woordvoerder, Yoliswa Ramokolo, gestuur. Geen terugvoer is tot dusver ontvang nie.

Die High Street-poskantoor bedien inwoners op Makhanda en omliggende plase en dorpe, insluitend Peddie-dorpies en Riebeek-Oos. Klante moet nou na Port Alfred reis vir dienste waarvoor krag nodig is.

Met ʼn besoek aan die poskantoor was dit taamlik donker in die kantoor, met amptenare wat hul selfone se liggies gebruik om enigiets gedoen te kry. Een amptenaar sê personeel gaan werk toe net om daar in die donker te sit.

“Ons kan nie ons pligte uitvoer en klante bedien nie. Dit is ook vir ons stresvol as ons nie mense kan help nie,” sê die werknemer.

Klante kla ook dat hulle nie toegang tot enige dienste het wat rekenaars benodig nie, soos die opsporing van pakkies.

“Dit is ʼn groot probleem, die poskantoor is nou net verniet daar. Ons kan nie dienste kry nie, aangesien werknemers nie by hul stelsel kan aanmeld nie. Die stelsel het elektrisiteit nodig om te funksioneer,” het Tembani Sangotsha, ʼn inwoner van die gebied, gesê.

Talle inwoners sê hulle kan nie meer SABC1 kyk nie nadat daar oorgeskakel is na digitale uitsendings wat ʼn dekodeerder benodig. Volgens die inwoners het hulle verlede jaar, ná ʼn aankondiging deur die SAUK, by die poskantoor aansoek gedoen vir hul gratis dekodeerders.

Weens die gebrek aan krag en dus ʼn rekenaarstelsel, kan hul aansoeke nie verwerk word nie en hul dekodeerders nie geïnstalleer word nie.

“Ons is hartseer omdat ons weens die elektrisiteitsonderbreking by die poskantoor nie die Xhosa- en Zoeloe-nuus en ʼn paar sepies wat ons by die huis geniet het, op SABC1 kan kyk nie,” sê inwoner Yonela Cakwebe.

Twee ander poskantore op Makhanda, in Joza en Market Square Mall, is permanent gesluit ná voortdurende inbrake. Die Joza-poskantoor is vroeg verlede jaar gesluit en die Market Square Mall-poskantoor in 2022.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wondermaarnet ·

Stem ANC! Ek hoop die mense wat so TV dekordeerders bestel se TV lisensies is op datum.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou gaan die hooggeregshof daar moontlik ook sy deure sluit.

Anel ·

So, omdat daar ingebreek word, word die plek maar gesluit! Ai, tog. Wat ‘n skande!!! Maar almal wil tv’s hê maar wonder hoeveel betaal lisensies? Ons, wat nie tv het, word gedreig om die vervloekte ding te betaal!!!!

Aggie ·

Die kiesers moet nou regtig hul “hatrseer” stembus toe vat om te stem vir verandering, en nie val vir ‘n sogenaamde t-hempie nie!

Elize ·

Wondermaarnet belowe ek jou nie een van hulle betaal lisensies nie. Alles is verniet en dan kan jy maar skreeu as dinge nie volgens jou smaak gedoen word nie. Help ook nie om die vervloekte SABC te laat weet dat jy nie meer ‘n TV het nie want dan word jy gedreig dat jy agterstallig is met jou lisensie en stappe gaan gedoen word teen jou. Elke kaia in die land het ‘n TV skottel en kyk lekker verniet TV

Danie ·

Selde hier.
Almal kla oor tekort aan kos en klere en staan dae lank in sassa toue om op die belastingbetalers se geld te teer maar die sinkhokke is oortrek met dstv skottels.

SjN ·

Indien hul huur op datum was sou die krag aan gewees het? Is mos gewoond om alles verniet te kry. Skande.

Blomme ·

In die kol Kragaap. Die ANC is Suid Afrika se GROOTSTE fout!

Cassie Carstens ·

As die regering maar net Mark barnes se aanbod wou aanvaar. Hy wou die Poskantoor koop met skuld en al – sou die regerings niks kos nie. In sy tyd was daar nooit stakings of so iets nie. Alles het gewerk, Maar nee, die kommuniste wil mos alles beheer, maar hulle weet nie wat om daarmee te maak nie. Baie tragies.

kragaap ·

Ja dalk Moe’s hul aan MB verkoop het. Ongelukkig het dit onder sy heerskappy heel agteruitgegaan, en van sy beloftes zero gekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.