Enigste van sy soort ABO-dagboek aan VTM geskenk

Pieter Willem de Jager (Foto verskaf)

“Hierdie is een van die mees kosbare en geskiedkundig belangrike skenkings wat die Erfenisstigting nog ontvang het.”

Só sê Monique Lubbe, museumkundige van die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument (VTM), nadat die stigting ’n enigste van sy soort dagboek ontvang het.

Susanna Helena de Jager het ’n handgeskrewe indiepte-dagboek, in Nederlands, van haar tyd in gevangenisskap in die Ladysmith-konsentrasiekamp (in Natal) vanaf 1899 gehou.

Die kamp het tydens die Anglo-Boereoorlog meer as 1 000 gevangenes gehuisves en 18 persone is teen 1902 oorlede toe die kamp ontbind is.

De Jager was 22 jaar oud toe sy gevangene geneem is en is kort voor haar 51ste verjaarsdag op 10 November 1928 oorlede.

Haar kleinseun, Pieter Willem de Jager (74), het die Erfenisstigting genader om te hoor of hulle sou belangstel om die erfenisskat te bewaar.

“Sonder enige twyfel, dit is van onskatbare waarde,” was die antwoord juis omdat die stigting nog geen sulke dagboeke ontvang het of in besit van is nie.

Susanna de Jager se dagboek (Foto verskaf)

“Om sulke geskiedenis in jou hande te kan vashou, is nie net ’n groot oomblik nie, maar ook ’n groot verantwoordelikheid. Dit is ons werk as erfenisbewaarders om die skatte te bewaar, maar ook om die stories te vertel en dit is juis wat ons gaan doen. Ons sal in ’n later stadium die dagboek vir die publiek uitstal,” sê Lubbe.

De Jager vertel sy ouma se dagboek is aan sy pa Christiaan de Jager gegee en voor sy afsterwe is dit toe aan hom toevertrou.

“Hy het dit vir my gegee en vir my gesê, en sy ma was altyd baie erg oor sulke goed gewees. Hy het gesê jy moet mooi daarna kyk en jy moet iets daarmee doen. Nou ja goed, dit het lank gevat voordat ek iets begin doen het,” sê De Jager.

Hy het die bekende historikus prof. Fransjohan Pretorius ontmoet en Pretorius het hom verwys na die Erfenisstigting wat hierdie geskiedkundige dokument sal kan bewaar.

Sou enige persoon ’n skenking of bydrae wil maak aan die VTM en Erfenisstigting, volg gerus die skakel https://vtm.org.za/donasies/ of kontak Monique Lubbe by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.