Erge griepseisoen verwag

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Menige Suid-Afrikaner sal waarskynlik hierdie winter deur griep platgetrek word. Dit is omdat Suid-Afrikaners weens die afgelope twee jaar se Covid-19-afsonderingsregulasies hul immuniteit teen griep kwyt is.

“Dit word ’n immuniteitsgaping genoem,” sê dr. Aslam Dasoo, sameroeper van die progressiewe gesondheidsforum.

Volgens Dasoo is dit daarom uiters belangrik dat Suid-Afrikaners, veral dié ouer as 50, hierdie winter hul griepinspuiting saam met hul Covid-19-inenting en/of opvolginentingsdosisse (oftewel booster) ontvang.

Die entstowwe kan op dieselfde dag toegedien word, maar op verskillende arms. Die entstowwe word ook by verskillende inentingspersele toegedien.

Dasoo sê die uitbreek van Covid-19 in 2020 het Suid-Afrikaners gedwing om die afgelope twee jaar onder meer gesigmaskers te dra en beter handhigiëne te handhaaf. Die regulasies het gevolglik die verspreiding van ander respiratoriese siektes soos griep beperk.

Talle regulasies, waaronder die dra van maskers in die buitelug, is egter onlangs opgehef, wat beteken dat sommige mense nou hul waaksaamheid verslap terwyl ’n vyfde golf waarskynlik nader kruip.

“Dié griepseisoen gaan waarskynlik erger wees,” waarsku Dasoo nou.

Hy herinner voorts daaraan dat die dra van maskers veral binnenshuis en die handhaaf van goeie handhigiëne goeie beskerming teen Covid-19 en ander respiratoriese siektes bied.

“Ons is almal teen die tyd pandemieveterane. Ons almal weet wat om te doen.”

Die Gautengse departement van gesondheid het intussen ’n beroep op Gautengers gedoen om die griepinspuiting te ontvang. Die entstof is gratis by staatsgesondheidsfasiliteite vir verskeie hoërisikogroepe beskikbaar, onder meer gesondheidsorgwerkers, mense ouer as 65 jaar en inwoners van ouetehuise, swanger vroue en kinders tussen ses maande en nege jaar met chroniese toestande.

Die griepinspuiting tree binne 14 dae ná toediening in werking en bied tussen ses tot agt maande lank beskerming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Griep entstof en die covid inenting ? Dit klink na ‘n dubbele doodskoot. Daar was nog altyd opvlamming van griep met draai van die seisoene. Wat maak dit nou ewe skielik anders ?

Deon ·

As ons so immuniteit verloor, hoe betroubaar is ons ander ente wat ons as kinders gekry het nog?

Owlie ·

Dis heel logies dat natuurlike immuniteit sal verswak wanneer mense met vrees gedwing word om onder lockdown te wees en dan nog maskers moet dra waar nie vrylik asem kan haal nie gepaard Gawande met al die stres van die afgrlooe 2 jaar en nou nog die nuwe stres wat die regering wil afdwing met die nuwe reels – Dr’s gaan hard werk, big pharma gaan geld maak en covid syfers gaan skielik styg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.