Ermelo-slagoffers het verdagte geken

Die huis in Ermelo waar vier mense die afgelope naweek met ’n skerp voorwerp aangeval is. Robert James en Bangon Roopsai is tydens die aanval vermoor. (Foto: Verskaf)

Die 29-jarige man wat in hegtenis geneem is vir die wrede moord op Robert James (59) en Bangon Roopsai (50) in hul huis in Ermelo die afgelope naweek het glo lank in die paartjie se tuin gewerk. James se seun, Eugene (25), en sy meisie, Yolandi Swart (20), is ook aangeval en beseer.

Volgens die polisie het die verdagte vermoedelik ʼn byl in die aanvalle gebruik, hoewel ooggetuies aanvoer dat ʼn knipmes met bloed in die gesteelde Volkswagen Polo gevind is waarmee die verdagte van die toneel gevlug en later ʼn ongeluk gemaak het. ʼn Byl het glo wel op die erf buite die huis gelê, maar daar was geen bloed sigbaar nie.

Albert van Rooyen, ʼn reaksiebeampte by die sekerheidsmaatskappy Acsu, was een van die eerste mense op die toneel nadat ʼn buurvrou dié sekerheidsmaatskappy van ʼn beseerde man buite die huis in Sluiterstraat in kennis gestel het.

Robert James en Bangon Roopsai. (Foto: Facebook)

Met sy aankoms op die toneel het Van Rooyen by die agterdeur van die huis ingegaan waar hy bloed opgemerk het. In die huis was nabygeleë inwoners reeds besig om die beseerde Swart by te staan. Sy het op die vloer gelê.

Daarna het Van Rooyen na buite gehardloop waar Eugene gelê het.

“Daar was verskriklik baie bloed. Hy het erge beserings aan sy bene opgedoen,” het Van Rooyen gesê. “Twee mans was reeds by hom en het probeer om die bloeding stop te sit.”

Acsu het die nooddienste ontbied en Eugene en Swart is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Hulle is glo intussen ontslaan.

Die polisie het ʼn ruk later ook by die toneel aangekom.

Acsu het ook die AfriForum- en Ermelo-buurtwagte, die Sheepmoor-plaaswag en die omliggende boere gemobiliseer om die verdagte te help vastrek.

Die slagoffers het aan mense op die toneel gesê dat James ook iewers in die huis moet wees.

“Ek het oral in die huis gesoek, maar kon hom nie kry nie. Intussen het ons ook na die registrasienommer van die voertuig gesoek sodat ons die motor vinnig kon opspoor,” het Van Rooyen gesê.

“Daar is aan ons gesê daar is ʼn lêer in die motorhuis waarin die registrasienommer behoort te wees. Ek het saam met die polisie en nog ʼn persoon die motorhuis met ʼn baksteen en ander gereedskap oopgebreek. Ek het ʼn dikkerige mat gesien wat op ʼn vreemde manier naby die trap gelê het. Ek het dit opgelig en die liggaam van ʼn man gesien. Daar was ʼn diep snywond aan die agterkant van sy nek, maar ek het nie bloed gesien nie. Hy het nie beweeg nie.”

Die gesteelde Volkswagen Polo waarmee die verdagte ’n ongeluk gemaak het. (Foto: Verskaf)

Van Rooyen sê die ouerige man het ʼn kaalkop (soos James) gehad, met effense grys hare aan die onderkant van sy kop. Hy het met sy gesig na onder gelê en was met die mat toegegooi.

Van Rooyen het dadelik besef dis nou ʼn misdaadtoneel en dit aan die polisiebeampte – wat ook in die motorhuis was – oorgegee. Hy het ook nie aan die man geraak nie, maar die paramedici op die toneel gaan vra om te kom help en die gebied afgesper.

Volgens Van Rooyen is Roopsai se liggaam kort daarna in haar salon aan die huis gevind. Hy was nie self in die salon nie, maar sê dat hy meegedeel is dat Roopsai ernstige beserings aan haar skedel opgedoen het. Sy is vemoedelik ook verkrag, hoewel dit nog nie deur die polisie bevestig is nie.

Spanpoging help verdagte vastrek

Maroela Media het vroeër berig dat die verdagte op die Amsterdam-pad vasgetrek is nadat hy teen ʼn ander voertuig vasgery het.

Bester Maree, direkteur by Acsu, sê met sy aankoms op die ongelukstoneel het die insittendes van die ander Volkswagen Polo waarteen die verdagte vasgery het, die verdagte vasgedruk omdat hy glo probeer weghardloop het.

Geld en sleutels wat in die gesteelde voertuig gevind is. (Foto: Verskaf)

Volgens Bester is ʼn knipmes met bloed en geld in die gesteelde voertuig gevind.

Oubaas de Jager, Acsu se uitvoerende hoof, sê dit is danksy goeie samewerking deur die betrokke veiligheidstrukture en boere dat die voertuig en verdagte so vinnig opgespoor en vasgetrek is.

Acsu maak ook gereeld van die maatskappy Amadlozi gebruik om motors en verdagtes vinnig met behulp van kameras op die paaie om Ermelo te identifiseer en op te spoor.

Die polisie was sowat 10 minute later op die toneel om die verdagte in hegtenis te neem.

De Jager het baie lof vir die goeie samewerking tussen hierdie rolspelers wat al dikwels tot suksesvolle operasies gelei het. Hy is ook dankbaar vir lede van die gemeenskap wat op die toneel gehelp het, asook mooi na die beseerde slagoffers omgesien het.

“Ons sal mooi na hierdie kinders kyk,” het De Jager gesê.

Die polisie het nog nie aangedui wanneer die verdagte in die hof gaan verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

SKUIM van hierdie land – Ongelukkig is daar TE VEEL van sy soort in SA, daarom dat die moordsyfer styg met die spoed van lig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.