Esidimeni-families ontevrede oor uitbetalings

Familielede van Life Esidimeni-pasiënte wat die mislukte oorplasing na NRO’s oorleef het, is ontevrede dat nie alle eise al uitbetaal is nie, en diegene wat betaling ontvang het, het slegs ongeveer 50% van die bedrag van R1 180 000 ontvang, het die Demokratiese Alliansie Sondag gesê.

“Kragtens die meester van die hof is daar bepaal dat 50% (R590 000) aan familielede uitbetaal moet word en die ander 50% in ʼn trust wat geadministreer sal word tot voordeel van die pasiënt,” het DA-woordvoerder Jack Bloom gesê.

Ongeveer 300 families, wat deur die Life Esidimeni-tragediekomitee (LETG) verteenwoordig word, het die kantoor van die Gautengse premier daarvan beskuldig dat hy nie ʼn ooreenkoms nagekom het om die geld in ʼn trust te plaas nie. “Hulle sê hulle moet ʼn rol hê om die geld te bestuur, aangesien hulle oor die jare heen na hul geliefdes omgesien het,” het Bloom bygevoeg.

Phindile Baleni, direkteur-generaal in die premier se kantoor, het verlede week aangekondig dat R60 miljoen tot dusver aan familielede uitbetaal is van die R300 miljoen wat begroot is. Dit is nie goeie vordering nie, aangesien daar onderneem is dat alle betalings reeds in Desember 2018 sou plaasvind.

Die LETG beplan ʼn petisie en is van voornemens om die openbare beskermer te nader oor die kwessie. Hulle is “agterdogtig dat die geld aan hospitaalgroepe oorbetaal sal word wat tans na die oorlewende Esidimeni-pasiënte omsien”, het Bloom gesê.

“Persone wat aangesê is dat hulle nie betaling sal ontvang nie, alhoewel hul familielede gesterf het tydens die periode wat gedek word deur regter Dikgang Moseneke se vergoeding, is ook ontevrede. Ek is ook ontevrede oor die stadige betalings en voortgesette dispute wat vermy kon word deur behoorlike konsultasie en sensitiwiteit.”

Bloom het bygevoeg die premier se kantoor moet eerlik wees met die families om alle probleme vinnig op te los sodat daar behoorlike vergoeding kan plaasvind vir alle betrokke partye. “Ons moet die voortgesette nagmerrie van die Esidimeni-tragedie beëindig.”

Minstens 144 psigiatriese pasiënte is dood ná die Gautengse departement van gesondheid in 2016 sowat 1 700 pasiënte van Life Esidimeni-fasiliteite na NRO’s sonder lisensies en die nodige geriewe verskuif het. Dié pasiënte het sowat drie maande in fasiliteite deurgebring wat nie opgeleide personeel of geldbronne gehad het om na hulle om te sien nie. Dit het tydens die arbitrasieverhoor aan die lig gekom dat die pasiënte van koue, honger, ontwatering en algemene verwaarlosing gesterf het.

Lees alle vorige berigte oor die Life Healthcare Esidimeni-tragedie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

DS ·

Snaaks toe hulle in die inrigtings was en geskuif was was daar nie oor hulle bekommer nie want meeste van hulle naasbestaandes het nie eers geweet hulle is geskuif of dood nie. Maar nou dat geld uitgedeel word nou is hulle bekommerd. Nie menslik aanvaarbaar nie. Toe hulle geleef het was hulle ‘n las nou wil julle voordeel trek. Ek se daardie geld moet deur betroubare instansie beheer word. Seker maak die pasiente is warm geklee, kry beste mediese behandeling, behoorlike voeding en verblyf vir res van hulle lewe. Die pasiente wat oorlede – is kyk wie het gereeld vir pasient kom kuier en omgegee en gee hulle ‘n bedrag om dan hulle lewens meer gemaklik te maak.

Johann M van Heerden ·

Stem saam. Dit is onsmaaklik om nou geld na te jaah as dit hulle ‘n groot persoonlike verlies was.

Sarel ·

Ek sien net almal soek geld maar niemand versoek of eis dat skuldiges vervolg moet word nie. My vraag aan die DA is wanneer gaan julle aandring dat skuldiges krimineel vervolg word.

Maljan ·

Ek sê daar moet geen geld uitbetaal word nie. Eerder moet daar klagte van verwaarlosing en afskeping teen die “Bedroefde” families gelê word. Ek wonder ook hoekom die DA nie vra vir vervolging van die beskuldigdes, familie ingesluit nie.

Hanna Hoekom ·

Nou wonder ek hoeveel van hierdie “ongelukkige familielede” het ooit enigsins die oorlede pasiente gaan besoek? Daar is pasiente in Cullinan Care sentrum sowel as Weskoppies Hospitaal wat in 30 jaar geen besoekers ontvang het nie. Ja, n tragedie het plaasgevind. Dit begin egter al hoe meer na n geldmaak storie klink. Ek moet byvoeg dat ek in beide hierdie instellings gewerk het. Baie pasiente word doodeenvoudig in sulke plekke geplaas en van vergeet.

Joon ·

Dit is net so met straat slapers ook. As die staat more vir hulle almal honderduisend rand gee, Dan moet jy sien hoe Baie familie het hulle, maar op die oomblik het hulle Niemand. Ching speel n groot rol

aj ·

Die massa ‘moordenaars’ (= ANC Regime) kom skotvry daarvan af.

Watter regverdige regstelsel laat ONSKULDIGE belastingbetalers betaal vir die misdaad van die magshebbers?

Die verantwoordelike ANC kaders moet nog vervolg word vir hulle massamoord!

James ·

Waar was die families tuidens die skuiwing en toe hulle “gelieftes” daar was. Melk die koei nou..

Johanna Botha ·

En die vrou wat verantwoordelik was vir die tragedie loop nog heerlik rond …tipies anc ! !

Penellope Jones ·

Ek sukkel erg met die idee dat geld ‘n lewe ”kan of moet” vervang.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die nuwe Suid Afrika darem…..waar die minister R200 136,00 per maand kry (nie verdien nie), dan indirek die dood veroorsaak van 144 mense (waarvan ons weet)….dan belastingbetalers kry om die naasbestaandes te verged…en skotvry rondloop en na ‘n volgende cushy job soek….terwyl die belastingbetaler nog steeds die salaris en byvoordele van die minister finansier? Hoekom kan ek nie ook so ‘n job kry nie?

Wielspore ·

Toe die mense nog geleef het is kostes gesny, nou is die mense oorlede en kyk watse bedrae geld word nou betaal vir verkeerde besluite wat geneem is. Wys net dat die prys van ‘n lewende Suid Afrikaner baie laag is

GM ·

Dalk moet ons almal vormpies gaan invul het en gesê het ons is ook ‘familie’. Só ‘n ou geldjie vir niks doen nie, sou darem maar handig te pas gekom het.

Waar was al dié mense voor hul geliefdes geskuif is? En hoe kon nie een sien hul word verwaarloos na die verskuiwing nie?Hulle is mos nie dag een al dood nie? Plaas die dom regering na besoekerslyste gekyk het voor hul net links en regs geld uitdeel – maar daar is mos baie waar daai vandaan kom. Hoeveel belastingbetalers sukkel nie om vir hul en hul families te sorg nie, maar moet elke maand vir duisende ander help sorg wat net op hul alies wil sit?

Leon ·

My tante is verlede jaar, 4 Julie oorlede in ‘n Germiston Hospitaal. Sy was vanaf Life Esidimeni oorgeplaas om beide haar bene te laat ampiteer nadat hulle versuim het om haar die nodige behandeling vir haar diabetes te gee. Sy was deel van die pasiente wat na die NGO’s oorgeplaas was en toe weer terug geplaas was na Life. Maar, nadat hulle teruggeplaas is Life toe was die kwaliteit van hulle behandeling bitter sleg. Hulle het haar bene geampiteer en haar in ‘n gewone saal laat “hersel” sonder enige medikasie vir pyn. Dit was vir my ma die slegste tyd van haar lewe aangesien ons net mooi niks vir haar suster kon doen nie. By die hospitaal het ons te kenne gegee dat ons ongelukkig is oor die behandeling maar ons was bloot geignoreer. Sy is enkele dae na die operasie oorlede.

Connie ·

Ek het ‘n familie lid nou vir paar weke in Weskoppies gehad. Ek het haar baie gaan besoek. Fantastiese goeie hospitaal. Wonderlike susters in die saal en goeie kos en baie skoon. Wat my opgeval het was dat meeste van pasiente geen besoek ontvang het van famiie nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.