Eskom: Kragminister gekap; nee vir komitee 

Adj.pres. Paul Mashatile (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Terwyl die minister van elektrisiteit gekap word dat hy korrupsie by Eskom “onderspeel”, het die land se adjunkpresident gesê korrupsie by Eskom sal nie geduld word nie.

Adj.pres. Paul Mashatile het Donderdag in die parlement gesê die stryd teen korrupsie is bo-aan die regering se agenda. Daar is volgens hom druk dat Suid-Afrika na skoner energie moet beweeg, maar daar sal verseker word dat die kragstasies wat die land tans het, behoorlik onderhou word om elektrisiteit te kan opwek.

ʼn Ander prioriteit is om die R56 miljard wat deur munisipaliteite aan Eskom geskuld word, in te vorder. Daar is ook ʼn beleid geskep om te verseker dat die regte vaardighede in plek is en volgens Mashatile sal daar nie toegelaat word dat mense sonder die regte vaardighede aangestel word nie.

Die Nasionale Vergadering (NV) het ook gister besluit dat ’n ad hoc-komitee nie op die been gebring sal word om die bewerings van wydverspreide korrupsie en kriminele kartelle by Eskom te ondersoek nie.

DA-leier John Steenhuisen het die mosie gebring, maar 201 lede het daarteen gestem terwyl 115 vir die mosie gestem het.

Die lede wat teen die resolusie gestem het, het aangevoer dat die huidige parlementêre toesigmeganismes en Kgosientsho Ramokgopa se aanstelling as minister van elektrisiteit voldoende is om die kwessies by Eskom te hanteer en dat daar daarom geen dwingende redes aangevoer is om die ad hoc-komitee saam te stel nie.

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit (Foto: SAgovnews/Twitter)

Ramokgopa word intussen deur die DA gekap nadat hy gesê het die probleme by die Kusile-kragstasie lê nie soseer by korrupsie nie, maar is eerder aan die tegniese kant.

Ghaleb Cachalia, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, meen Ramokgopa se uitlatings is nie net roekeloos nie, maar lê sy werklike agenda bloot.

“Dit is om ANC-korrupsie te probeer suiwer en die kriminele netwerke by Eskom van enige verantwoordelikheid te onthef. Ramokgopa moet onmiddellik sy kommentaar terugtrek en verduidelik hoe hy beplan om saam met wetstoepassingsagentskappe te werk om korrupsie by Eskom uit te roei, wat die kern vorm van baie van die bedryfsuitdagings waarmee die entiteit tans te kampe het.”

Kusile en Medupi was die teelaarde van plundering en korrupsie op industriële skaal gedurende die staatskapingsera, het Cachalia gesê.

“Die kragstasies is steeds aan die ontvangkant van ’n plunderende bende van misdadigers wat hulself in kartelle georganiseer het om voort te gaan om die entiteit tot op die been te stroop.”

Die DA het Ramokgopa verder gekap oor sy uitlatings dat die ontbondeling van Eskom nie ’n prioriteit is nie.

“Dit bewys bo alle twyfel dat Ramokgopa net nog ’n kader is wat ontplooi is, nie om Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis reg te stel nie, maar om enige werk wat gedoen word om die elektrisiteitsektor te hervorm, te stuit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.