Eskom verwelkom hofbevel wat Trillian dwing om miljoene terug te betaal

Jabulani Mabuza, raadsvoorsitter van Eskom (Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency/ANA)

Eskom het ʼn hofbeslissing verwelkom wat die konsultantefirma Trillian Capital beveel om die R600 miljoen wat hy onwettig van die sukkelende kragvoorsiener verhaal het, terug te betaal.

Die hooggeregshof in Pretoria het Trillian Capital, wat verbind word met die omstrede Gupta-familie, Donderdag beveel om ál die geld wat hy tussen Augustus 2016 en Februarie 2017 by Eskom ontvang het, terug te gee. Daar was geen geldige kontrakte in dié tyd nie en in sommige gevalle is geen werk gedoen nie.

In Donderdag se uitspraak deur regters Selby Baqwa, Moara Tsoka en Dawie Fourie, het die hof bevind daar was geen wetlike of feitelike gronde waarom Eskom vir Trillian altesame R595 228 913,29 in konsultantegeld moes betaal het nie.

Die bedrag van R600 miljoen, tesame met rente wat bereken word vanaf die dag van die uitspraak, moet nou terugbetaal word. Trillian moet voorts die koste van die aansoek en die koste van drie advokate betaal.

Eskom het Trillian en McKinsey verlede jaar hof toe gesleep vir die terugbetaling van byna R1,6 miljard wat glo onwettig aan die maatskappye betaal is.

Die voorsitter van Eskom se raad, Jabu Mabuza, het gesê die kragvoorsiener verwelkom die uitspraak en hulle sien daarna uit om die geld terug te kry.

“Ons doen ʼn beroep op alle maatskappye wat onwettig met Eskom sake gedoen het om vrywillig na vore te kom, sodat ons kan begin om die geld terug te kry wat in dié tyd betaal is,” het Mabuza gesê.

Eskom het die hofgeding begin om die geld by Trillian terug te kry ná ʼn uitgerekte proses wat in 2017 van stapel gestuur is. Eskom het toe al ʼn aanmaningsbrief aan Trillian gestuur, maar die vorige Eskom-bestuur het dit om ʼn onverklaarbare rede teruggetrek.

Eskom sê hy het voortgegaan om nou saam met wetstoepassingsowerhede en die Zondo-kommissie van ondersoek te werk om die gesteelde geld deur strafregtelike en siviele prosesse te herwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Toffie ·

Dit is goeie nuus!!. Nou is daar darm nog ‘n jaar se bonusse en lekker kuiers vir Eskom se mense. Waar is die ouens wie daardie geld afgeteken het nou?. Steeds werksaam by Eskom??. Jip, het so gedink…????

thinus erasmus ·

Ja Toffie en volgens eg ANC tradisie sal hulle (die wat dit gedoen het) nog so vet bonus ontvang wanneer die Trillion geldjies inkom – wat wou hul sal sommer ń voorskot kry vir “goeie” dienste gelewer.

Hansie Slim ·

Toffie, nee Moses Koko het mos bedank!!
Natuurlik bang vir wat gaan volg maar hy dink hy kan weg kruip as hy bedank het…hy was primer verantwoordelik vir daai betaling. Ek hoop net nie hy is saam met die Guptas weg nie!!!

Galoepie ·

En as hulle dit nie terugbetaal nie, sal niks gebeur nie, soos gewoonlik………….

Ai. ·

Tata my money tata my chances..Daai geld sal jul nie weer sien nie!

BMW ·

Wonder in wie sakke gaan daardie geld nou beland, gaan defnetief nie aangewend word om eskom uit die gemors te kry nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

WIE het daardie geld sommer so goedsmoeds oorbetaal? In die regte wêreld doen ‘n mens EERS die werk, en word dan betaal….in Suid Afrika kry jy die tender, kry die geld, en verdwyn!!

ne ·

@Gemaskerde Sopbeen – jy is 1000% korrek.
Net in SA werk dit so, kry sommer die volle bedrag as die tender goedgekeur is. Vra maar vir Julius Malema.

W Benade ·

Ek vra die vraag aan myself – “Is die mense opgelei as opbouers of afbrekers?”

George in Bloem. ·

Net nog ‘n 600 miljoen wat in hierdie bodemlose geldput vermors gaan word ,vir die tweede keer,en so sal dit aangaan vir so lank as wat Chico the Clown en die res van die korrupte narre in beheer is van die sirkus. Absolute NIKS gaan verander tot behoorlike besigheidsbeginsels en streng fiskale dissipline met behoorlike prosedures behoorlik toegepas word nie en korruptes in die tronk kom waar hulle hoort nie.En met die spul aan die stuur,”what are the chances?”

boerseun ·

die maatskapye het tog seker met iemand onderhandel wat onwettig die betalings gemagtig het. Wie en waar is hulle?

Sarel ·

Wat van die Amptenare wat betaling gedoen het en gemagtig het……skies vergeet hulle is bevorder Parlement toe. Hier gaan volg apel op apel en niemand gaan ooit hierdie geld sien nie.

Ai ·

Wel Benade kyk na die heidige stand van sake in Suid Afrika en jy weet sonder om te hoef te vra wat hulle is…! Het jy anders verwag..Dit is Afrika ge-run en ge-ruin deur Africans..

Adam ·

Die feit dat daar ‘n hofbevel is klink dalk goed maar indien daar nie geld of bates is nie, kan die hofbevel nie uitgewin word nie. Eskom kan terloops ook munispaliteite begin opwarm om vir elektrisiteit te betaal en by wanbetaling die kragtoevoer afsluit. ongeag die effek op die ekonomie. Ons moet immers erens begin om mense te leer dat jy moet betaal vir dienste wat gelewer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.