Eskom werk hard om krag in GP aan te hou

Transformators en mini-substasies word gereeld in Gauteng beskadig. (Foto: Maroela Media)

Eskom is steeds hard aan die werk om mini-substasies en transformators in Gauteng te vervang om die krag in dié provinsie so ver as moontlik aan te hou. Die energieverskaffer het Woensdag in ʼn verklaring gesê dat sy werknemers dié proses nou versterk.

Eskom sê gevalle van diefstal, vandalisme en die oorlading van die netwerk dra alles daartoe by dat kragtoerusting onklaar raak of ontplof. Oorlading word verder veroorsaak deur onwettige koppelings, ’n gepeuter met kragmeters en ongemagtigde bedrywighede op die netwerk.

Maroela Media het verlede week berig dat daar boonop ʼn tekort aan kragtoerusting is weens die hoë koers waarteen dié mini-substasies en transformators oppak. Dit maak dit dus moeilik om stukkende toerusting te vervang en kragtoevoer na geraakte gebiede te herstel.

“Eskom stel beheermaatreëls soos oudits, onderhoudwerk, lasvermindering, opvoeding en bewusmakingsveldtogte in om onklaarrakings, onbeplande en verlengde kragonderbrekings af te weer.

“Die kragtoerusting raak egter steeds onklaar – hoofsaaklik weens onwettige aktiwiteite wat in Gautengse gemeenskappe voorkom,” het Eskom Woensdag gesê.

Daphne Mokwena, Eskom se senior bestuurder van kliëntediens in Gauteng, sê die verskaffer het oor die jare stukkende toerusting herhaaldelik sonder ʼn vervangingsproses herstel of vervang.

“Wanbetaling, skuldvlakke, toenemende nie-tegniese verliese en stygende bedryfskoste plaas egter verdere finansiële druk op Eskom omdat ons voortdurend herstelwerk moet doen aan toerusting wat breek of opsetlik beskadig word.”

Eskom het nietemin sy herstelproses versterk om verlengde onderbrekings en die onklaarraking van infrastruktuur te verminder.

Volgens Mokwena begin die proses om stukkende toerusting te herstel en vervang met ʼn netwerkoudit om die oorsaak van die onklaarrakings en omvang van die skade te bepaal.

Dit sal gevolg word deur die verwydering van onwettige kragkoppelings, die herstel van foutiewe kragmeters en die vervanging van beskadigde transformators en mini-substasies – wat in dié stadium steeds ʼn uitdaging is weens beperkte voorraad.

Om verbruikers te akkommodeer wat nie dadelik die R6 052,60 kan betaal wat Eskom vir herkoppeling weens wanbetaling vereis nie, het die verskaffer ʼn alternatiewe betalingsreëling ingestel. Klante wat sodanige ooreenkoms met Eskom aangaan moet ʼn aanvanklike bedrag van R500 betaal terwyl die balans oor ses maande verhaal sal word.

Die proses om kragtoevoer te herstel sal begin word sodra 60% van die volledige bedrag ontvang is.

Mokwena sê voorts dat gemeenskappe in die posisie is om verlengde kragonderbrekings en voortydige onklaarrakings te verhoed deur nie by onwettige aktiwiteite betrokke te raak nie.

Enigeen met inligting oor onwettige aktiwiteite kan Eskom se misdaadlyn by 0800 112 722 skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Swerwer ·

Diefstal, vandalisme en die oorlading van die netwerk, onwettige koppelings, ’n gepeuter met kragmeters en ongemagtigde bedrywighede op die netwerk is alles te danke aan die ANC/EFF en wie moet ons bedank, die Kommunistiese georienteerde Regering want die Regering Amptenare/Ministers en President kry mos glad nie beurtkrag nie en hul is die hoof oorsaak van die wetteloosheid in ons land. Nou kan hul hul kaders nie beheer nie en nog minder opvoed.

krodedil ·

Eskom , sny af die krag van wanbetalers en onwettige koppelings. Die dae dat almal verniet krag kry moet stop. Betaal eers en kry dan krag.

duiweboer ·

Strerkte Eskom. Ons weet onder watse druk julle is. Ek Glo dit Sal regkom onder De Reyter en Jan Onerholser nou dat dit goedgekeur is om ou bloed terug te bring

Leon ·

Hul is al vir meer as twee en ‘n half jaar daar…wat het hul tot dusvêr uitgerig? Hoekom sal dit NOU regkom?

Miena ·

Regtig? Wonder hoe lank gaan dit vat om die “ou bloed” deur die sisteem te kry, mediese toetse, induksie, gaan hulle hulle eie gereedskap moet saamvat werk toe of gaan daar darrem geld wees om tools te kan voorsien? Hoop nie dit is n geval van daar is te veel melk in die koffie nie – hopelik sal daardie “ou bloed” dan kan aanbly solank as wat sy gesondheid hom toelaat om te kan werk.

Prikkie ·

Die toerusting is nie “onklaar” nie. Dit is moeg en gedaan weens wanonderhoud. In die weermag het ons ‘n pragtige woord gehad – ondiensbaar.

domheks ·

Wie moet ons bedank? cANCer wat alles belowe het en nou nie daai belofte nakom nie!

Ria ·

Mantashe moet gedwing word om NOU sy hand op papier sit en die bal aan die rol te kry vir privaat voorsieners en solarprojekte. Hy beten niks vir hierdie land nie.

Niklaas ·

Skep ‘n deurlopende program van toerustingonderhoud , en probeer onwettige koppelings elimineer en waak dan ook nog teen selfverryking (lees Diefstal) en siedaar , groot vordering word gemaak in hierdie verband. Die resultate sal ons almal verstom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.