Etzebeths maak babanuus bekend ná Rugbywêreldbeker-sege

(Foto: anliastar/Instagram)

Die Springbokslot Eben Etzebeth glimlag vanoggend om verskeie redes baie breed en een hiervan is moontlik die feit dat hy eersdaags gaan pa word.

Sy vrou, Anlia, het Sondag op Instagram die babanuus bekend gemaak met ʼn foto van haar en Eben wat die Webb Ellis-trofee vashou en haar babamagie wat duidelik wys. “Seën op seën. Dankie Here! Welgedaan Bokke en gelukkige verjaarsdag my liefste man,” het sy by die foto geskryf. Etzebeth vier vandag sy 32ste verjaarsdag.

Etzebeth, ’n veteraan van drie WB-toernooie en die speler met die meeste toetservaring in die Bokspan, het gisteraand saam met sy spanmaats die Wêreldbeker wat hulle in 2019 verower het, suksesvol verdedig en sodoende die eerste mansrugbyspan geword om die gesogte beker vir ʼn vierde keer te verower. Hy is ook verlede week vir Wêreldrugby se speler van die jaar-toekenning benoem.

Anlia het vroeër vanjaar aan Maroela Media gesê die Rugbywêreldbeker was maande lank ʼn reusegesprekspunt in die Etzebeth-huishouding en hoe kon sy dan nou anders as om ʼn liedjie vir haar man en die Springbokke te skryf, naamlik “Saam, Suid-Afrika”.

“Ek wou eintlik al ʼn hele tydjie gelede ʼn liedjie vir die Wêreldbeker uitreik, veral omdat dit net een keer in vier jaar gebeur,” het Anlia aan Maroela Media gesê.

“Eben het my baie aangemoedig, en ek het geweet dat dit vir hom ook spesiaal sou wees.”

Alhoewel Anlia in ʼn “tipies Suid-Afrikaanse huis grootgeword het wat altyd rugby gekyk het”, soos wat sy daarna verwys, het die Bokkoors haar eers veel later in haar lewe getref, bieg sy.

Haar kop was vol muisneste oor toneelspel en sang, en sy het nooit verwag dat haar loopbaan in die vermaakbedryf uiteindelik vervleg sou wees met dié bekende Suid-Afrikaanse sportsoort nie.

“Ek is regtig op ʼn goeie plek. Ek het my beste pel gekry en is getroud met hom. Die Here het altyd ʼn plan, en mens besef dit nie altyd nie.”

Anlia het Suid-Afrikaanse harte verower toe sy in Julie 2022 tydens Eben se 100ste toetswedstryd vir die Springbokke die volkslied gesing het. Die paartjie was toe nog net verloof, en koester dié hartroerende oomblik vandag nog. Die egpaar is in Februarie vanjaar getroud, kort nadat Etzebeth as die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se speler van die jaar aangewys is.

Sy het haar deur die jare heen as aktrise en sangeres ingeburger, en is veral bekend vir haar rol as Sasha Richter in die kykNET-sepie Getroud met Rugby.

Vandag staan Anlia in ʼn paar splinternuwe skoene: dié van Springbokvrou. “Die res van die Springbokvroue is ongelooflik. Die ondersteuning onder hulle is so groot, dit is so lekker om deel van hulle te wees.”

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Anlia Etzebeth (@anliastar)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AH ·

Pragtige paartjie! Dit sal ‘n mooi baba wees! Baie geluk en seënwense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.