‘Facebook-bedrieër’ se tweelingbroer ook agter tralies

Smit tydens sy inhegtenisneming vroeër vandeesmaand. (Foto: Verskaf)

ʼn Vermeende Facebook-swendelaar wat mense glo uit miljoene rande op Facebook bedrieg het, se tweelingbroer is Dinsdag, op die twee se 26ste verjaardag, in Noupoort op ʼn diefstalverwante klag in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Marius Smit is op 3 Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy glo daagliks ʼn goedkoop voertuig op verskillende Facebook-groepe geadverteer het. Hy het deposito’s van belangstellende kopers geneem, maar nooit ʼn voertuig gelewer nie.

Marius se broer, Werner, is nou óók agter tralies. Leon Rossouw, ʼn private speurder van Bloemfontein wat die ondersoek teen Marius Smit begin het, het gesê ʼn lasbrief is vir Werner se inhegtenisneming uitgereik, nadat hy nie sy verhoor oor ʼn diefstalsaak bygewoon het nie.

Rossouw het Marius Smit se beweerde bedrywighede in Desember verlede jaar al begin ondersoek, ná ʼn plasing op Facebook sy aandag getrek het. ʼn Vrou op die platform het ander mense gewaarsku teen iemand wat ʼn goedkoop voertuig adverteer en dan met die voornemende koper se deposito verdwyn.

Rossouw sê die besonderhede van die slenter het vir hom baie geklink soos die modus operandi van Smit, wat hy in 2011 al ondersoek het en wat destyds weens ʼn ander skelmstreek skuldig bevind is.

Rossouw het by meer as 400 Facebook-groepe aangesluit om Smit dop te hou en het tientalle mense opgespoor wat glo deur Smit ingeloop is. “Dit het ons ʼn tydjie gevat, maar ons kon uiteindelik ʼn prentjie saamstel van hoe hy te werk gaan en ek kon alles mooi bymekaar pas,” het Rossouw gesê.

Hy het sy inligting aan die Valke oorhandig en Smit is op 3 Julie in Botshabelo, naby Bloemfontein, by ʼn bank in hegtenis geneem waar hy kontant gaan onttrek het.

Marius Smit tydens sy vroeëre hofverskyning.

Hy verskyn Vrydag weer in die landdroshof in Bloemfontein, waar hy na verwagting ʼn formele borgtogaansoek gaan indien.

Daar is ook ʼn moontlikheid dat nóg klagte teen hom aanhangig gemaak gaan word.

Ná nuus oor Smit se inhegtenisneming bekend geword het, het nóg mense na vore gekom wat glo op dieselfde manier bedrieg is. Rossouw het gesê hulle het in ʼn stadium tussen 40 en 50 oproepe per dag hanteer van mense wat vermoed het Smit het hulle ook ingeloop.

Hy is na bewering al sedert 2014 besig met die bedrogspul en het mense landwyd glo uit bedrae van tussen R1 500 en R3 000 bedrieg.

Rossouw het gesê hulle het in die ondersoek foto’s van verskeie mense versamel wat Smit in sy beweerde aanlyn slenter gebruik het. Daar is ook foto’s van voertuie wat hy glo te koop aangebied het. Rossouw het gesê die mense op die foto’s én die voertuie se eienaars moet nog nagespoor word.

Mense wat glo hulle is op dieselfde manier ingeloop, kan Rossouw nader by 079 240 3491 of ʼn e-pos stuur na [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Boertjie ·

Sy is drie maande terug oorlede! En hulle vader klompie jare gelede, beide het in die kinderhuis groot geword! Hartseer storie, maar ja verkeerd bly verkeerd.

Swapie ·

Ja-nee, 2 koppe is beter as 1. En die 2 dink ook seker identies.

Toffie ·

Ons gedagtes is almal dieselfde. Wou ook nou simpatiseer met die arme ouers. Voel sleg vir hulle alhoewel ek nie die situasie by die huis ken nie. Sterkte aan hulle, ek glo hulle het nie dit vir hulle seuns beplan nie…

James ·

Ek sien die ma is vroeg orlede en een van die seuns werk by nasorg sentrum. Sy facebook. Aai die wereld

Boertjie ·

Hulle moeder is n paar maande terug oorlede en hulle vader baie jare terug, hulle het van n baie jong ouderdom in die kinderhuis groot geword, verkeerd bly verkeerd, maar my hart bloei tog vir die twee jong mans!! Gooi maar die eerste klip as jy wil!!

Kat ·

En as daar gemoor en verkrag word Dan is dit ok..???? Aggg asb dis nie so erg nie

Lizelle ·

“Jakes se Houtonwerpe” is ook ń FB skelm, hy adverteer hout handgemaakte goed, vra dan 30% deposito, na hy die deposito ontvang het maak hy allerha de beloftes. Ek het op 6 April 2019 R3000 aan hom oorbetaal vir ń bed vir my dogter. Tot en met vandag nog geen bed gekry. 6 Junie was sy laaste belofte dat hy oor 2 weke aflewer. Nog Niks!! Vandag het hy my op FB geblok omdat ek aanhou vra en ook genoem het ek gaan ń saak maak. Ek heg al die klagtes, en kommunikasie aan. Help asb!!! Gaan kyk op sy blad, daar is baie mense wat kla oor geld betaal en nog niks ontvang

Jessica ·

I have just send him a mail to see his response, the criminal. MY SON IS A UNDERCOVER COP WILL CATCH THIS THIEF!!!

jaco ·

Dit sal baie help as plaasaanvallers en plaasmoordenaars net so deeglik gesoek en gevang kan word, maar dit sal nie gebeur nie, want dis nie polities korrek nie. Maar dis blykbaar reg om wit mense wat verkeerd doen behoorlik daarvoor hel te gee, al is dit oortredings veel ligter as aanranding en moord.

genoeg is genoeg ·

Skelms kry jy oral en al jare… ek en ‘n vriendin wou op ‘n bus toer gaan die desposito was die helte van die bustoer. Ek het ‘n R1000 en vriendin R500 betaal aan ‘n me OOSTHUIZEN en haar ma (Pretoria) wat die toer gereël het… en die gemors het met ons geld verdwyn… dit was 1997 of 98 al… en hulle het op die internet geadverteer. Jakkals verander van haar maar nie van snaar nie…!!!

ne ·

Net so ‘n slegte ondervinding met Garden Equipment gehad. Glo dit is ‘n Nigerier. Saak by polisie aangegee, maar daar is nie ‘n sent op die rekening nie.

Kobie ·

Al kom hulle uit slegte omstandighede is dit geen rede om onskuldige mense te beroof nie. Hulle is die soort wat keer dat ‘n goeie mens niemand meer vertrou en help nie. Sluit toe en gooi die sleutel weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.