Facebook-plasing oor vermiste student ‘wolhaarstorie’

Marie Ostbo. Foto: Verskaf

ʼn Plasing wat op Facebook die ronde doen oor die vermiste Noorweegse student Marie Ostbo (21) is volgens die polisie ʼn “wolhaarstorie”.

Die plasing lui dat Ostbo tussen Migdol en Delareyville in Noordwes gesien is. Volgens kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, is die bewering egter ongegrond. “Daar is niks konkreets wat ons in die verband kan opvolg nie. Indien mense dink hulle het Ostbo gesien, moet hulle asseblief hul naaste polisiekantoor verwittig.”

Ostbo het op 18 April verdwyn terwyl sy saam met ʼn buitelandse studentetoergroep in Sedgefield in die Wes-Kaap vertoef het. Sy het volgens die polisie net ná 18:00 saam met die groep op die strand gaan stap. Sommige studente het Ostbo glo net voor 19:00 laas op die strand, sowat 100 m van waar die groep tuisgaan, opgemerk. Sy was geklee in ʼn paar blou jeans en ʼn wit T-hemp.

Die polisie het haar selfoon, ʼn hoed en skoene op die strand gevind in die omgewing waar sy vermis geraak het. ʼn Uitgebreide soektog het egter nog geen teken van Ostbo opgelewer nie.

Volgens Pojie is die soektog intussen tot groot mate afgeskaal. “Daar vind nog periodieke soektogte plaas, maar in dié stadium is daar geen nuwe leidrade of enigiets positief nie. Ons kan mense bloot vra om op die uitkyk te wees. Ons bly hoopvol.”

Marie en haar pa, Atle. Foto: Facebook

Atle Ostbo, Marie se pa, het vroeër gesê hy vermoed sy dogter is aangeval aangesien sy nie haar besittings op die strand sou los en met haar nuwe kamera sou gaan swem nie. Atle is egter steeds hoopvol dat sy dogter gevind sal word.

“Almagtige God, bring ons Marie terug. Ek smeek dat jy die oë van diegene wat na haar soek, sal oopmaak. Help die Suid-Afrikaanse soekpersoneel om Marie te vind. Ek dank U dat U ons hoor wanneer ons bid, amen,” het hy Sondag op Facebook geskryf.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die betrokke owerhede is intussen in verbinding met Ostbo se familie in die buiteland en word bygestaan deur die polisie, die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, die Noorweegse ambassade en die departement van toerisme.

Mense met meer inligting wat kan lei tot Ostbo se opsporing word versoek om hul naaste polisiekantoor of die Sedgefield-polisie by 044 343 1321 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
marianna

Mnr. Ostbo julle noorweërs dink mos alles gaan goed in SA want julle help die anc.
Het 2 besoekers hier in SA gehad en ek het hulle goed ingelig hoe dit werklik hier gaan.
Hulle oë het omtrent gerek toe hulle al die gemors in die strate en omgewing gesien het.
Hulle mooi vertel hoe teen die witmense gediskrimineer word.

Hannes

Kaptein Potjie, het julle die leidraad opgevolg of het julle sommer besluit dis bog? Mens volg leidrade op, dis wat die polisie moet doen.

kas

Selfoon hoed en skoene op die plek waar sy vermis geraak het gevindSy en haar kamera is weg.Sou aanvallers nie haar besittings ook verwyder het nie veral die selfoon.Honderd meter van die plek waar hulle gebly het.Hoekom was sy alleen op die strand.Die ander het haar op die strand gesien maar geen vreemde persone nie.Sy is dalk ontvoer,verkrag, vermoor en op ‘n ander plek gaan begrawe.Enige iets is moontlik maar wat my pla is dat niemand iets gesien het nie.Wat sou sy in Noordwes gaan maak het of het sy weggeloop saam met iemand .Dit klink nie moontlik nie sonder… Lees meer »

Sinies

Dit is baie hartseer en raaiselagtig, ek hoop opreg sy word veilig gevind.
.
Dit is ook so dat Nordiese lande groot finansiers van geweld in 80s en 90s was.
Daarom is dit nodig om op geleë tye die bevolking van hierdie lande bewus te maak van die uitkoms van hul politieke keuses.

Mimi

Ek hoop hulle het haar foto oral opgesit, ook op omliggende dorpe…net ingeval iemand haar ontvoer het. N mens voel saam met die ouers en familie ! Baie sterkte, ons hoop sy word gou gevind. n Mens hoor van human trafficking, so alle leidrade moet opgevolg word.