FAK bied hulp aan Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument (Foto: FAK Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) stel as deel van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram bekend om Afrikanermonumente se finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

As praktiese bemarkingshulp gaan die FAK ook kultuurkaarte aan FAK-vriende uitreik wat agtergrondinligting oor verskeie historiese plekke en ’n roetekaart na monumente bied en waarmee FAK-vriende ook afslag op toegangsgeld kan kry. Die FAK hoop om op dié manier meer voete na die monumente te lok.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is een van die FAK se geskiedenisfonds se belangrikste doelwitte om gemeenskappe en kultuurorganisasies te ondersteun om plaaslike erfenisterreine te bewaar en te onderhou. Die FAK beywer hom ook vir die herstel en bewaring van bestaande Afrikanermonumente en die ontwikkeling van nuwe monumente om die Afrikaner se geskiedenis te vier.

Langner sê kultuur en monumente geniet ongelukkig ʼn lae prioriteit vir mense in dié krisistyd.

“Monumente is wel plekke van inspirasie wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat sy deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp,” sê Langner.

Langner sê Afrikaners sal self verantwoordelikheid moet aanvaar om in dié krisistye hul geskiedenis vir hul nageslag te bewaar.

Die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die instellings op die FAK se prioriteitslys. Weens die verlies aan toerisme-inkomste omrede die landwye afsondering, is dié instelling een van die plekke wat moontlik sy deure kan sluit.

Die Smutshuis (Foto: FAK Verskaf)

Volgens dr. Christo Pretorius, voorsitter van die Voortrekkermonument-direksie, het dié nasionale erfenisbate en ikoniese Afrikanermonument soos alle bewarings-, toerisme- en opvoedkundige instansies die afgelope twee maande bloed gesweet om te oorleef.

Die Voortrekkermonument is ’n gewilde toeristebestemming vir plaaslike en buitelandse besoekers en sal waarskynlik een van die laaste plekke wees wat weer ten volle sal mag funksioneer met die geleidelike opheffing van die afsonderingsregulasies.

Die FAK het ’n lang historiese verbintenis met die Voortrekkermonument. Op 4 April 1931 is die Sentrale Volksmonumentekommissie as die eerste komitee van die FAK in Bloemfontein gestig met die doel om die Voortrekkermonument te bou. Die eindresultaat van die FAK-kommissie was die Voortrekkermonument in Pretoria, die Bloedriviermonument, die Voortrekkermonument in Winburg en die Retief-standbeeld by die Geloftekerk in Pietermaritzburg.

Onder die vaandel van die geskiedenisfonds het die FAK verlede jaar begin om nuwe Afrikanermonumente te bou. Die eerste beelde wat opgerig is, is ’n beeld van dr. NJ van der Merwe, ’n stigterslid en eerste voorsitter van die FAK, en die Penkop-beeld, wat op 13 Junie by die FAK se Udolpho-rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul is.

Vanjaar gaan die Sorg-beeld op 16 Junie by die Irene-konsentrasiekamp in Centurion onthul word, asook ’n Vrouebeeld ter ere aan die ma’s en dogters wat uit die ashope van die verskroeide aarde ’n nuwe toekoms begin bou het. Die FAK sal ook bystand verleen aan die Kroonstad Konsentrasiekamp, Kerkenberg, Smutshuis en ander Afrikanermonumente en erfenisterreine wat vir hulp aansoek doen.

Die FAK versoek gesinne, families en gemeenskappe om hom by te staan om geskiedenis en monumente vir die toekoms te bewaar. Die publiek kan ʼn SMS na 45730 (R1,50) stuur om ʼn skenking aan die FAK te maak. Besoek ook gerus dié webtuiste om die FAK se geskiedenisfonds prakties te ondersteun: www.monumente.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Ek sou die boere kry om hule produkte elke saterdag daar te verkoop,n boeremark gaan meer geld in as om toegangs geld te verlaag

PieterP ·

Die laaste keer dat ons daar was, was ‘n reuse teleurstelling teenoor vroeëre jare. Die glaskaste wat altyd vol historiese items was, was bykans leeg met amper niks in hulle oor nie. Die klipwerk was steeds pragtig maar die res van die geskiedenis was of weggebêre of weggedra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.