Familie distansieer hulle van boek oor AKA, Anele

Anele Tembe was verloof aan die bekende kletsrymer Kiernan Forbes, beter bekend as AKA. (Foto: akaworldwide/Instagram)

’n Onthullende boek oor die Suid-Afrikaanse kletsrymer Kiernan Forbes, algemeen bekend as AKA, en sy destydse verloofde, Anele Tembe, wat binne twee jaar albei dood is, is vandeesweek bekendgestel.

Volgens NB-Uitgewers onthul die boek, When Love Kills – The tragic tale of AKA and Anele deur Melinda Ferguson, intieme besonderhede van AKA en Anele se verhouding wat eindelik in ʼn “warrelwind van passie en obsessie” ontaard het.

NB-Uitgewers sê die boek gee ook ’n eksklusiewe blik op sleutelrolspelers in die paartjie se dood, onder wie Anele se pa, Moses Tembe, nabye medewerkers aan AKA, “asook ’n hoofstuk oor Rob Stefanutto, die man wat Anele in die laaste twintig minute van haar lewe probeer troos het”.

Die Forbes-gesin het Maandag in ’n verklaring gesê dat hulle op geen manier by die boek betrokke was nie en hulle onderskryf dit ook nie.

“In dieselfde asem distansieer ons onsself van die inhoud van die boek. Toe Melinda na ons uitgereik het, het ons met respek en tereg geweier om tot haar boek by te dra,” sê die Forbes-gesin.

Die familie sal geen verdere kommentaar lewer nie en is ook nie bewus van wat in die boek staan nie.

“Ons vind egter die beoogde publikasie van die boek en die tydsberekening onsmaaklik en opportunisties,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig dat die geregtelike doodsondersoek steeds nie afgehandel is nie. Daar heers steeds talle vrae oor die omstandighede rakende haar dood.

Intussen staan sewe mans tereg vir die moord op AKA nadat hy en ’n vriend in Februarie verlede jaar in Durban doodgeskiet is. Forbes (35) en Tebello “Tibz” Motsoane (34) is op 10 Februarie 2022 in Floridaweg in Morningside, Durban, doodgeskiet kort nadat hulle aandete by die Wish-restaurant geëet het.

Twee gewapende verdagtes het die aand die straat oorgesteek en Forbes en Motsoane van naby geskiet voordat hulle weggehardloop het. Albei is op die toneel dood verklaar.

Twee van die verdagtes is in Eswatini in hegtenis geneem vir hul beweerde aandeel in die moorde en het nog nie saam met hul vyf medebeskuldigdes in die hof verskyn nie.

Ronald Lamola, minister van justisie, het wel ’n aansoek goedgekeur om die twee verdagtes, twee broers, na Suid-Afrika te laat uitlewer.

Die saak is intussen verskeie kere uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.