Onthullende boek oor AKA, Anele op pad

Anele Tembe en Kiernan Forbes, beter bekend as AKA. (Foto: akaworldwide/Instagram)

’n Onthullende boek oor die Suid-Afrikaanse kletsrymer Kiernan Forbes, algemeen bekend as AKA, en sy destydse verloofde, Anele Tembe, wat binne twee jaar albei dood is, sal binnekort op die rak beskikbaar wees.

When Love Kills – The tragic tale of AKA and Anele deur Melinda Ferguson word volgende week bekend gestel.

NB-Uitgewers sê die boek onthul intieme besonderhede van AKA en Anele se verhouding wat eindelik in “’n warrelwind van passie en obsessie” ontaard het.

“Dit het soms gewelddadig geword en is na bewering aangevuur deur middelmisbruik,” lui die uitgewery se beskrywing van Ferguson se boek.

NB-Uitgewers sê die boek gee ook eksklusiewe insigte van sleutelrolspelers in die paartjie se dood, onder wie Anele se pa, Moses Tembe, nabye medewerkers aan AKA, “asook ’n hoofstuk oor Rob Stefanutto, die man wat Anele in die laaste twintig minute van haar lewe probeer troos het”.

“Die vurige verhaal van AKA en Anele is baie soos ʼn noodlottige hedendaagse Romeo en Juliet,” sê Ferguson. “Dit is ʼn epiese en verwoestende verhaal met wrede reperkussies: twee slim en kreatiewe jongmense, albei nou tragies dood.”

Tembe is presies drie jaar gelede dood nadat sy in April 2021 tien verdiepings ver na haar dood by die Pepperclub Hotel in Kaapstad geval het.

Sy was maar 22 jaar oud.

News24 het vandeesweek berig die geregtelike doodsondersoek is steeds nie afgehandel nie. Daar heers steeds talle vrae oor die omstandighede rakende haar dood.

Intussen staan sewe mans tereg op die moord op AKA nadat hy en ’n vriend in Februarie verlede jaar in Durban doodgeskiet is.

Forbes (35) en Tebello “Tibz” Motsoane (34) is op 10 Februarie 2022 in Floridaweg in Morningside, Durban, doodgeskiet kort nadat hulle aandete by die Wish-restaurant geëet het.

Twee gewapende verdagtes het die betrokke aand die straat oorgesteek en Forbes en Motsoane van naby geskiet voordat hulle weggehardloop het. Forbes en Motsoane is albei op die toneel dood verklaar.

Twee van die verdagtes in die moord op AKA en Motsoane is in Eswatini in hegtenis geneem vir hul beweerde aandeel in die moorde en het tot op hede nog nie saam met hul vyf medebeskuldigdes in ’n beskuldigdebank in Suid-Afrika verskyn nie.

Ronald Lamola, minister van justisie, het wel uiteindelik ’n aansoek goedgekeur om die twee verdagtes, twee broers, na Suid-Afrika te laat uitlewer.

Die saak is intussen verskeie kere uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.