Fase 2, 3-beurtkrag vir Sondag

Argieffoto (Foto: Pexels / Pixabay)

Beurtkrag sal Sondagoggend om 05:00 tot die middag om 16:00 afgeskaal word tot fase 2.

Fase 3-beurtkrag geld dan van 16:00 tot Maandagoggend om 05:00.

Eskom sê dit is danksy die verwagte herstel van noodreserwes oornag en twee kragopwekkingseenhede wat na verwagting teen Sondag in diens gestel sal wees.

Die kragvoorsiener sal Sondag ʼn vooruitsig vir die week verskaf of sodra enige beduidende veranderings plaasvind.

Eskom het vroeër gesê kragopwekkingskapasiteit is verlede Donderdag verloor toe vyf eenhede by Kendal- en ʼn eenheid by Duvha-kragsentrales onklaar geraak het. Fase 4-beurtkrag is toe tot verdere kennisgewing ingestel.

Volgens die kragvoorsiener is Kendal 1 Woensdag om 20:00 afgeskakel weens lekkende veiligheidskleppe. Dit het die kapasiteit van die demineraliseerde waterbergingstenks laat daal. Terwyl bergingsvlakke herstel is, het ʼn besoedelingsvoorval by die waterbehandelingsaanleg plaasgevind. Die aanleg moes toe geïsoleer word om die oorsaak te bepaal.

Tydens dié ondersoek het die vlak van die sekondêre verkoelingswater, wat ook gedemineraliseer word, gedaal. Dit het om 02:00 die oggend tot die gebrek aan kapasiteit van vier kragopwekkingseenhede gelei.

Die eerste eenheid is intussen weer aangeskakel en nog twee sal na verwagting Sondag aangeskakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.