Fase 4-beurtkrag ingestel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Eskom het Saterdagoggend fase 4-beurtkrag ingestel en gesê dit sal tot verdere kennisgewing van krag wees.

Dit is weens die opwekkingseenhede wat by elk van die Koeberg-, Medupi-, Kriel-, Arnot- en Lethabo-kragstasies onklaar geraak het.

Die kragvoorsiener het gesê hy sal ʼn verdere aanpassing gee sodra dit noodsaaklik word.

Die aankondiging volg ná Thomas Conradie, waarnemende hoof van opwekking van Eskom, Vrydag tydens die eerste terugvoersessie oor die vordering van die inwerkingstelling van die energie-aksieplan gesê het die vraag na elektrisiteit is laag en daarom sal fase 3- en fase 4-beurtkrag vir die naweek voortduur, met fase 3 wat deur die dag van krag sal wees en tussen 16:00 en 05:00 tot fase 4 verhoog word.

Hy het ook verwys na die 17 000 MW wat tans weens onbeplande instandhoudingswerk nie beskikbaar is nie, en wat volgens hom te hoog is.

Conradie het tydens die sessie gesê daar sal in die komende weke herstelwerk aan tien opwekkingseenhede voltooi word. Dit sal die kragnetwerk se kapasiteit verbeter om gereed te wees vir die komende wintermaande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.