Fedhasa veroordeel onverantwoordelike gedrag in Kaapstad

Kaapdstad (Foto verskaf deur Fedhasa)

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) veroordeel ten sterkste onverantwoordelike gedrag deur hospitaliteitsinstansies en gebruikers oor die feesgety wat die verspreiding van Covid-19 kan verhoog.

Dit kom ná ʼn video wat op sosiale media gedeel is wat glo die afgelope naweek by ʼn restaurant in Kaapstad geneem is waar Covid-19-regulasies verontagsaam word.

“Die toerisme- en hospitaliteitsbedryf het ongelooflik hard gewerk om streng gesondheid- en higiëne-protokol in te stel om personeel en gaste te beskerm,” sê Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa, in ʼn verklaring. “Die absolute minagting vir dié reëls, soos blyk in die video, plaas nie net klante en enigiemand met wie hulle in kontak is in gevaar nie, maar bedreig ook die reputasie en voortgesette bedrywighede van die hele bedryf.”

Sy sê dit is ondenkbaar dat die onverantwoordelike gedrag van ʼn klein groepie instansies en klante wat die protokol verontagsaam die werk van personeel in gedrang kan bring in ʼn bedryf wat reeds tot ʼn groot mate gely het onder die Covid-19-afsonderingsregulasies.

“Ons het die regte ding gedoen deur baie streng protokol in te stel onder die banier van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika, ‘Travel Safe Eat Safe’. Daar kan nie enige verskoning wees om ʼn beleërde bedryf te teister deur lewens en mense se lewensbestaan te bedreig vir ʼn paar ure se sinnelose genot nie.”

Anderson het gesê Fedhasa veroordeel dié onverantwoordelike optrede en doen ʼn beroep op die hospitaliteitsbedryf en gaste om streng te voldoen aan die Travel Safe Eat Safe-protokol.

Die vereniging stel vandeesweek sy #maskupMzansi-veldtog bekend waar hy klante en die hospitaliteitsbedryf versoek om die regte ding te doen en toerisme- en hospitaliteitsondernemings help om aan protokol te voldoen.

“Instansies wat steeds die reëls verontagsaam kan hul dranklisensies verloor, aanspreeklik gehou word of selfs gesluit word. Klante, wat toegewyd is om mekaar veilig te hou en die hospitaliteitsbedryf te help om te herstel, word versoek om met hul voete te stem en enige voorvalle van nienakoming deur die Travel Safe Eat Safe-app aan te meld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Moedeloos ·

Dit gaan oral so. Gaan ry deur voorstede en gaan kyk daar waar kuierplekke en eetplekke is, daar word nie aan die reëls voldoen nie. Ek sê nie jy moet met n masker aan eet nie maar die afstande en die aanhou van maskers wanneer jy nie eet nie , word totaal geignoreer.

Die Wolf ·

Hou jou masker op en kry n strooitjie om KOELDRANK te kan geniet. Wees kreatief om om die strooitjie te bewimpel.

Karel Kobus Kruger ·

My vrou het n ruk gelede vir ons maskers van kantgordyn materiaal gemaak. Lekker baie gaatjies waardeur jy maklik kan asemhaal. Dit keer seker nie die virus nie, maar nou ja…..

daarsdit ·

Ons in KZN Margate. Meer as helfde van die mense het nie maskers op nie en afstand word nerens toegepas nie. Die restaurante is na 1 in die oggend nog oop en soveel mense in die straat mens kan nerens ry na donker nie.

Piet ·

Baie dankie aan di mense wat getrou hou by die regulasies. Ek vaar egter uit teen die mense, ongeag ras of kleur wat hulle steur aan die regulasies nie. Dit uiters en blatante selfsuftigheid. Ek hoop diewet vas hulle aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.