Floris se talent lankal op die lappe

Floris Louw saam met een van sy skeppings. (Foto: Verskaf.)

Deur Elize Perrin

Unieke kostuums. Dit is een van die kenmerke waarmee Nataniël se vertonings geassosieer word. Floris Louw is die man met die vlytige vingers wat agter die skerms Nataniël se drome ’n werklikheid maak.

Kleintyd

Vra jy vir Floris waar die talent vandaan kom, antwoord hy dat dit moontlik ingebore is. Hy noem dat hy reeds as kleuter van materiaal gehou het.

Sy ma, Ansie, beaam dit. “Floris was van kleintyd af baie kunstig en het as kleuter al materiale en teksture tussen sy vingers gevryf,” vertel sy. “Later het hy tafeldoeke en -nette, lakens en vele meer om stoele gedrapeer.”

“Ek weet my Sondagskooljuffrou het vir my ma-hulle gesê dat ek modeontwerp moet oorweeg aangesien ek gefassineer was met die materiaal waarvan haar klere gemaak was,” sê hy. Floris voeg by dat hy ook vanaf ’n jong ouderdom reeds klere begin teken het.

In standerd 7 (graad 9) het hy sy suster se matriekafskeidrok ontwerp en gemaak. “Dit was ’n baie praktiese rok wat in stukke verdeel was,” vertel hy. “Sodoende sou die rok werk ongeag of dit die aand koud of warm sou wees.”

Ongeveer dieselfde tyd het hy sy eerste ontwerperskompetisie gewen met ’n soortgelyke rok.

“As ek nou daaroor dink, was die rokke nogal ’n eenvoudige voorskouing oor wat sou kom met die kostuums,” sê hy.

‘After Animals’ is by 2016 se Naledi-toekennings met vyf Naledi’s bekroon. (Foto: Facebook via Nataniël News Page.)

Loopbaan

Floris het vyf jaar aan die Pretoria Technikon, tans die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie, studeer. Tydens sy studies het hy, onder meer, die Kanseliersmedalje vir uitstaande akademiese prestasie verwerf.

Gedurende dié tyd het hulle vir ’n semester by James Edward Mulder klas gekry. Laasgenoemde was in daardie stadium Nataniël se ontwerper. Met Mulder se vertrek oorsee, het hy name van persone wat moontlik by hom kon oorneem, aan Nataniël voorgelê.

“My naam was op die lys,” sê Floris. “Nataniël het my gekontak. Ná ’n onderhoud moes ek ’n hemp, baadjie en jas vir hom maak en sedertdien hy het nog nie opgehou vra vir kostuums nie.”

Volgens Floris was die ontwerp en maak van kostuums nie deel van sy plan nie.

“Ek wou ’n beroemde modeontwerper wees wat trou- en aandrokke maak,” lag hy, “maar ek het vir seker nie die persoonlikheid of geduld daarvoor nie.”

Vra jy Floris oor die uitdagings van die unieke kostuums, antwoord hy dat daar elke jaar ’n uitrusting of twee is wat hom tydelik onder kry.

“Dit is gewoonlik dié wat minder met naaldwerk te doen het en meer met skroewe, hout en kabelbande,” sê hy. “Vir sommige van die uitrustings moet mens eerder ’n nutsman wees as ’n naaldwerker.”

Nataniël (Foto: Facebook)

Tog erken hy dat dit gewoonlik van die moeiliker uitrustings is wat die bevredigendste is. Op ’n vraag oor watter uitrusting vir hom die meeste hoofbrekens besorg het, noem hy dat die After Animals-vertoning ’n uitdaging was. Dit was volgens hom ’n vertoning met die meeste stukke en die moeilikste uitrustings.

“Daar was twee jasse wat eers soos twee trone moes lyk en dan verander in koningsjasse,” vertel hy. “Dit moes alles op die verhoog, voor die gehoor en vol beligting, gebeur.”

Floris verkies om nie ’n gunstelingstuk te kies nie.

“Ek is trots op elke stuk,” sê hy. “Wanneer daar erkenning is vir my werk, maak dit my ongelooflik trots; ook wanneer daar van my klere in tydskrifte of in ’n video verskyn. Ek is trots op elke liewe vertoning waarvan ek deel kon wees.”

Familie

Floris Louw en sy ma, Ansie. (Foto: Verskaf.)

Floris is deel van ’n hegte gesin. Hy is deeltyds betrokke by die familiebesigheid en woon naby sy ouers op Hectorspruit. Sy familie is sy ondersteuningstelsel wat graag help waar hulle kan.

“As Floris ’n opdrag kry, vertel hy ons daarvan en soms hou ek, hy, sy pa en broer ’n dinkskrum. Dis veral wanneer die ontwerp strukture met, byvoorbeeld, drade en skroewe behels,” vertel Ansie. Ander kere sal sy help linte knip of dalk gou iets by die winkel gaan koop.

“Floris is ’n harde werker. As hy ’n spertyd moet haal, begin hy tweeuur in die oggend wanneer dit stil en koel is. Sy ateljee is in ons huis en sulke tye eet en slaap hy gewoonlik hier. Ons karring nie aan hom nie, want as hy deur daardie deur gaan, is hy in ’n ander wêreld,” sê sy.

Floris en sy ouma Annetjie van Vreden. (Foto: Verskaf.)

’n Mens wonder soms hoe ouers kritiek op hul kinders ervaar en hanteer.

“Hy het nog nooit negatiewe kommentaar gekry nie,” vertel Ansie, “maar dit is vir my ’n groot teleurstelling as iets skeefloop. Soms wil ek huil as ek weet hoeveel ure in die detail van ’n kostuum ingegaan het en die kostuum is dan so kort op die verhoog dat mense dit nie regtig raaksien en waardeer nie. Ander kere is ek bly om te sien hoe beligting die kostuums komplementeer. Ek is ook opgewonde as ek weet daar gaan binnekort ’n danser iewers uitspring.”

Ansie verklap dat Floris ál sy eerste masjiene in kompetisies gewen het. Sy eerste omkapmasjien is deur sy ouma Annetjie van Vreden vir hom aangeskaf. Laasgenoemde het kunsnaaldwerk gedoen en Floris was baie lief vir haar. Ouma Annetjie, wat in 2019 oorlede is, het hom selfs leer seep kook.

Alhoewel Floris reeds drie Naledi-pryse verower het, meen Ansie dat sy meer dankbaar as trots voel oor sy werk en prestasies.

“Dit is meer dankbaarheid dat hy sy godgegewe gawes gebruik en ook dat hy so ’n nederige, omgeemens is,” sê sy.

Drome

Drome is daar nog steeds. Floris sou graag kostuums vir ’n buitelandse vertoning of rolprent wou maak. Hy het dit ook baie geniet om van Nataniël se boeke te illustreer en sou dit ook graag meer wou doen. Kunsklasse aan jong studente is ook op sy droomlysie.

Selfs gedurende die inperkingstyd het Floris nie ledig gesit nie. Nuwe, opwindende dinge wag op Nataniël se ondersteuners. Hou gerus die media dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

katerinadiekat ·

Fantastiese jong man! Hardwerkend, Mooiste glimlag en hope talent. Im happy for him, earning his income doing something he loves. Mag hy altyd veilig wees.

shari ·

Knap gedaan Floris. Nathaniel mag maar in jou skeppings gesien word.Uitstekende werk vir n jong man van jou ouderdom

Elsabe ·

Wow!! Ek hou duime vas vir daardie opdrag wat beslis gaan kom om kostuums vir ‘n buitelandse vertoning of rolprent te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.