Foto: Welkom, Baba Etzebeth

Die Springbok Eben Etzebeth en sy vrou, Anlia, kort voor die geboorte van hul eersteling. (Foto: @mariellecatherinephoto/anliastar/Instagram)

Honderde boodskappe van gelukwensing stroom in ná die geboorte van Springbokheld Eben Etzebeth en sy vrou, Anlia, se eersteling.

Anlia het Saterdag ʼn foto gedeel van die stralende gesin kort ná Baba Etzebeth se geboorte Dinsdag. Sy het die baba se gesiggie met ʼn pienk hartjie verbloem en geen verdere besonderhede oor die kleinding verklap nie.

Die trotse ma het laat in Oktober die nuus gedeel dat sy en Etzebeth, ’n veteraan van drie WB-toernooie en die speler met die meeste toetservaring in die Bokspan, ʼn baba verwag.

“Wat ʼn voorreg om vir soveel maande jou hartjie styf onder myne te kan hoor klop … elke skop, rek en strek te voel… Om die Heilige ‘portal’ te wees tussen Hemel en aarde vir jou siel wat kom om ons ʼn gesin van drie te maak!” het Anlia ʼn paar dae gelede geskryf en pragfoto’s van haar, teen daardie tyd ver swanger, gedeel.

“Dit was nie ʼn maklike paar maande vir hierdie soon-to-be-mamma nie, maar ek was nooit alleen nie en ek glo dit het my net sterker gemaak.”

Die Etzebeths se baba is Dinsdag gebore. Anlia het die foto Saterdag saam met die nuus gedeel. (Foto: Anlia Etzebeth/Facebook)

Honderde mense het die egpaar reeds met die pienkvoet se geboorte gelukgewens.

“Ai, jis amazing!! Daar is niks soos dit!!!” skryf sangeres Karlien van Jaarsveld in ʼn boodskap.

Toks van der Linde, self ʼn Springbok-grote op sy dag, het die paartjie ook gelukgewens.

Nóg boodskappe uit rugbygeledere het gekom van Cheslin Kolbe, Rachel Kolisi (vrou van Springbokkaptein Siya Kolisi) en die Haaie-rugbyspan.

 

 

 

Wat ń voorreg om vir soveel maande jou hartjie styf onder myne te kan hoor klop.. elke skop, rek en strek te voel… Om…

Posted by Anlia Etzebeth on Sunday, January 14, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.