Altesaam 25 persone is in Limpopo in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging, en brandstigting nadat twee tavernes en ʼn vragmotor, wat aan ʼn drankwinkel se pakhuis behoort, aan die brand gesteek is.
“Die gemeenskap beskuldig die eienaar van die tavernes van moord ná ʼn 24-jarige vrou se liggaam vermink aangetref is voor haar huis in Mecklenburg,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê.
Maroela Media het vroeër berig Carol Motene se liggaam is verlede Saterdag aangetref. Sy is in die kop geskiet en haar neus, lippe en geslagsdele is verwyder.
“Haar ekskêrel is vroeër in hegtenis geneem in verband met haar moord, maar hy is vrygelaat weens ʼn gebrek aan bewyse,” het Otto bygevoeg. “Die gemeenskap verdink nou die eienaar.”
Niemand is in die gewelddadige optrede beseer nie.
Polisiebeamptes van die openbareorde-eenheid is in die gebied ontplooi.