Foto’s: Afrika se grootste aasvoëlhervestiging is ‘bewaringsmylpaal’

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die grootste hervestiging van aasvoëls wat nóg in Afrika onderneem is, is Maandag suksesvol voltooi nadat 163 krans- en witrugaasvoëls hul vlerke by hul nuwe tuiste naby Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap gesprei het.

Maroela Media het vroeër berig Vulpro, by die Shamwari- private wildreservaat, gaan voortaan die nuwe tuiste vir die aasvoëls wees. Dít nadat die departement van bosbou, visserye en omgewingsake in Oktober verlede jaar goedkeuring gegee het dat hulle van VulPro se Hartbeespoortdam-fasiliteit na doelgemaakte fasiliteite by Shamwari oorgeplaas word.

Dié voëls is aan die voorpunt van ʼn projek om ʼn teelfasiliteit vir siek of beseerde aasvoëls te vestig waar hulle gerehabiliteer is en kan voortplant, maar nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie.

Die verskuiwing het meer as 50 mense betrek en het altesame 18 uur geduur. Die logistieke maatskappy, DHL, het vervoer en sekerheid verskaf, terwyl die nieregeringsorganisasie, WeWild Africa, 163 individuele vervoerkratte vir die voëls verskaf het.

Prof. Katja Koeppel van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde, en dr. Johan Joubert, veearts by Shamwari, het die welsyn van die voëls gedurende die hervestiging bestuur.

Kerri Wolter, uitvoerende hoof van VulPro, sê dit is die grootste hervestiging van aasvoëls wat nog in Afrika onderneem is en dat hulle uiters dankbaar is dat nie ʼn enkele sterfte tydens die hervestiging aangemeld is nie.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Die aasvoëls is in 163 individuele kratte vir byna 1 050 km na hul pasgemaakte fasiliteite by Shamwari vervoer. Die sukses hiervan sal ʼn aansienlike hupstoot vir aasvoëlbewaringspogings in Suid-Afrika – en op die ganse vasteland – gee.

(Foto: Verskaf)

“Die 25 000 ha-reservaat bied ʼn veilige en goed gebalanseerde ekosisteem vir bewaringsprogramme, asook finansiële ondersteuning en volhoubaarheid. Die risiko’s is ook beperk omdat die broeibevolkings nie op een plek gevestig is nie. Boonop bied Shamwari se teenstropingseenheid goeie sekerheid,” sê sy.

VulPro by die Shamwari- private wildreservaat bestaan tans ​​uit drie fasiliteite.

Een van die kampe is naby die veeartsenykundige hospitaal geleë en huisves erg beseerde aasvoëls wat deurlopend aandag vereis. ʼn Kunsmatige krans is by ʼn tweede fasiliteit – wat aan die bestaande wild-rehabilitasiesentrum grens – gebou om optimale toestande vir die kransaasvoël-broeipare te bied. Die derde kamp is ʼn voorvrystelling-fasiliteit wat naby die middel van die reservaat gebou is, van waar gesonde en jong kransaasvoëls vrygelaat sal word.

“Die nageslag van die ander aasvoëlspesies sal na VulPro se Hartbeespoort-fasiliteit teruggeneem word en op plekke – wat deur die Nasionale Aasvoëlteelbestuurskomitee geïdentifiseer is – vrygelaat word,” sê Wolter.

Joe Cloete, uitvoerende hoof van die Shamwari- private wildreservaat, beskou die vestiging van hierdie kampe as een van die grootste mylpale in die reservaat se 32 jaar lange geskiedenis.

“Om dit in perspektief te plaas, beskou ek dit so belangrik soos die hervestiging van 160 renosters. Aasvoëls is noodsaaklik vir ʼn gesonde ekosisteem en word ernstig bedreig. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe deurslaggewend die hervestiging van kransaasvoëls na die Shamwari- private wildreservaat vir ons bewaringsreis is nie.”

Nog kampe sal oor die volgende drie jaar bygevoeg word.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

VulPro is die enigste bewaringsorganisasie van sy soort op die vasteland en staan aan die spits van die hervestiging en aanvulling van aasvoëlbevolkings in Afrika om die ernstige bedreigings van hierdie voëls aan te pak.

“Menslike indringing het veral Afrika-savanna-roofvoëls beïnvloed. Die vele bedreigings wat hulle in die gesig staar, sluit in dat hulle geskiet of gevang word, opsetlike (en onbeplande) vergiftiging, die doodmaak vir geloofsgebaseerde gebruike, asook botsing teen kraglyne en ander infrastruktuur soos windturbines,” sê Wolter.

Sy sê aasvoëlbevolkings in onbeskermde gebiede het met meer as die helfte afgeneem as dié van voëls in beskermde gebiede en dat hul werk daarom uiters belangrik is.

“ʼn Tweede fase sal later vanjaar broeipare van die lapgesig-aasvoël, witkopaasvoël en kapaasvoëls, asook ʼn paar bykomende witrugaasvoëls hervestig.”

Al hierdie aasvoëlspesies, waaronder die witrug-, witkop- en kapaasvoëls, word as kritiek bedreig beskou, met die uitsondering van die lapgesig-aasvoël wat bedreig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Dis die goed wat my ook soveel hoop gee. Ek is so lief vir my land en sy mense.

Casper ·

Dit is opsigself ‘n sukses verhaal maar by Shamwari hoef hulle nie in hokke aangehou te word nie.As dit wel die geval is beteken hulle niks vir die echo sisteem nie.Hulle is mos die natuur se skoonmakers.

Bostoe ·

@Casper. Hierdie voëls is almal voëls wat gered is van beserings, vergiftigings, ens. wat nie sal oorleef as hulle vrygelaat word nie. Hulle broei wel baie suksesvol in aanhouding. Die kuikens van hierdie aasvoëls word deur die ouers grootgemaak met die minimum menslike inmenging en word dan in die natuur vrygelaat sodra hulle die nes verlaat. Dus lewer hierdie gehokte voëls ‘n baie belangrike bydrae vir aasvoëls in daardie omgewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.