Foto’s: Bfn-onderneming verwoes in brand

(Foto: Verskaf)

Brandbestryders het Woensdag vir sowat drie ure lank gespook om ʼn brand in bedwang te bring wat by ʼn onderneming in die Bloemfonteinse nywerheidsgebied Hamilton ontstaan het.

Houers vol transformator-olie – wat hoogs vlambaar en giftig is – het in die vlamme ontplof, wat dit uiters gevaarlik vir brandbestryders gemaak het.

Volgens Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brandweer- en reddingsdiens, is die brandweer omstreeks 13:30 na Transformer Field Services in Ben Jones-straat ontbied.

“Met ons aankoms daar het dik swart rookwolke reeds uit die gebou geborrel en die brand was reeds in ʼn gevorderde stadium,” sê Van Zyl.

In daardie stadium het werknemers van die onderneming ook gespook om twee boerboele wat op die perseel vasgekeer was, te red.

“Die honde is ongedeerd, maar een van die manne wat hulle gered het, moes hospitaal toe gejaag word vir rookinaseming.”

Die brandweer het sowat 600 000 liter water, gemeng met skuim, gespuit om die vlamme te blus en die brand is omstreeks 17:00 in bedwang gebring, sê Van Zyl.

Die toneel is daarna aan die eienaar van die onderneming, Pieter le Roux, oorhandig.

Volgens Van Zyl is ʼn ondersoek gelas om die oorsaak van die brand te bepaal.  Volgens inligting het die brand in een van die masjiene ontstaan.

Die omvang van die brand se skade moet ook nog bepaal word, maar volgens die foto’s wat ná die brand aan Maroela Media beskikbaar gestel is, is dit duidelik dat ʼn groot gedeelte van die onderneming vernietig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Moedeloos ·

Dis so hartseer. Alles waarvoor jy lewenslank gewerk het is meteens weg.

Hayntjie ·

Ek is verras dat die stad se brandweer nie die nodige suurstof maskers het om hierdie soort brande waar giftige gasse vrygestel word te kan blus nie. Instandhouding is belangrik om te verhinder dat koppelings in brandslange lek.

Friedrich ·

Dit is TRANSFORMATOR, nie TRANSFORMEERDER nie. Genade!!

Pietertjie ·

Maroela, dis seker TRANSFORMATOR olie. Transformeerders sal sterf as hulle daai olie inkry.

Janice du Plessis ·

Dagsê Pietertjie
Dankie vir jou kommenaar. Ons vra om verskoning vir die flater, die berig is gewysig.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Lillian ·

Om jou brood en botter so in vlamme te sien opgaan kan nie maklik wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.