Foto’s: Historiese skoener in Mosselbaai geanker  

Die manjefieke Luna Moon. Foto: Verskaf

ʼn Historiese skoener wat in 1920 in die Vige’ Werf in Nederland gebou is, lê tans voor anker in Mosselbaai-hawe waar sy grootskaalse opknappingswerk ondergaan.

Die Luna Moon, met haar kenmerkende vierkantige agterseil, het ʼn ryke seevaartgeskiedenis en is oorspronklik ontwerp om Franse en Nederlandse skepe oor die Engelse kanaal te begelei.

Sy het uiteindelik die Tweede Wêreldoorlog oorleef, waarskynlik as gevolg van haar destydse eienaar se versiendheid. Hy het die Luna Moon doelbewus tydens die oorlog gesink om te verseker dat sy nie in Duitse hande beland nie.

Die Luna Moon se dubbelmas van 28 m. Foto: Susan Purén

Sy is in 1949 weer vlot gemaak en is toe met ʼn enjin toegerus wat van die Nazi’s se oorlogmasjinerie herwin is.

Nadat sy in 1989 ten volle gerestoureer is, is die Luna Moon gebruik om see-kadette in België op te lei. Daarna het sy die Atlantiese vir die Indiese Oseaan verruil waar sy in die Seychelle as ʼn luukse seilboot verhuur is.

Haar huidige eienaar, die Suid-Afrikaanse filantroop en voormalige vlootduiker David Bird kan nie uitgepraat raak oor sy byna honderd jaar oue seilboot nie.

David Bird, die Suid-Afrikaanse filantroop, is die Luna Moon se eienaar. Foto: Susan Purén

“Sy het ʼn staalromp wat met klinknaels geheg is soos dit destyds die gebruik was. Sy is 118 voet of sowat 40 m lank en weeg 98 ton, maar verplaas sowat 160 ton water en haar dubbelmas van 28 m kan soveel as agt seile span,” rits hy die Luna Moon se uitstaande kenmerke met trots af.

Bird vertel hy het Mosselbaai vir die Luna Moon se vier maande lange restourasieproses gekies nadat hy vele ander hawens oorweeg het. “Mosselbaai se hawekaptein, Vania Cloete, en Portnet se eiendomsbestuurder, Errol Baardman, is uiters professioneel en met Mosselbaai se eeue oue geskiedenis van seevaart is dit die aangewese plek om die Luna Moon se honderdste verjaardag te vier,” sê Bird.

Die skoener kan soveel as 32 passasiers vervoer en is reeds met ʼn radar-stelsel en sonkrag toegerus.

Die Luna Moon was eers in Richardsbaai voor daar na Mosselbaai geseil is. Foto: Facebook

Sy het die afgelope jaar haar seile rondom Madagaskar gespan waar Bird help met opheffingswerk onder die plaaslike inwoners.

Die vaartuig word ook in Madagaskar gebruik om onder meer ook seekadette op te lei.

Die Luna Moon Sailing Academy bied ʼn internasionaal erkende seil-opleidingsprogram aan in samewerking met International Yacht Training Worldwide, ʼn wêreldleier op die gebied van internasionale seevaart.

Die bemanning bestaan uit die kaptein, Dan Edwards, oorspronklik van Port Elizabeth en Aaron Harrison, die vaartuig se ingenieur wat in Kaapstad opgelei is. Die res van die span is die avontuurlustige Natalie Marais en Courtney Bailey wat die kommunikasie en skakelwerk behartig.

Die Luna Moon het die afgelope jaar is die Indiese Oseaan by Madagaskar geseil. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

… het mnr Bird sy rykdom bekom mbv sy diepseeduikery? SA se kuslyn is elke skatsoeker se droom-diepsee-hengelgebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.