Foto’s: Lichtenburg-pad se slaggate kniediep

(Foto: DA Noordwes/Facebook)

ʼn Pad wat daagliks deur groot afleweringsvragmotors en pendelaars gebruik word om tot by Lichtenburg in Noordwes te kom, is al so vervalle dat die slaggate kniediep is.

Die DA sê dit is nou hoogtyd dat die departement van openbare werke werk daarvan maak om dié pad op te gradeer.

Die pad, bekend as P183-1, en meer algemeen bekend as die Deelpan/Nooitgedacht-pad, verbind verskeie gemeenskappe met Lichtenburg.

“Die pad het tot so ʼn haglike toestand verval dat voertuie nie die pad kan gebruik sonder om die risiko te loop van ernstige skade nie,” sê Gavin Edwards, DA-raadslid in die gebied.

“Dit is teleurstellend dat die regering toegelaat het dat hierdie pad tot so ʼn mate versleg het. Die slaggate is kniediep en hou ʼn veiligheidsrisiko in vir die honderde pendelaars wat daagliks die pad gebruik.”

(Foto: DA Noordwes/Facebook)

Volgens Edwards kan vragmotors, taxi’s en selfs noodvoertuie wat toegang tot die gebied moet kry dit nie met veiligheid doen nie.

Die pad wat gemeenskappe van Weltevreden, Mooipan en Louisdal in Mahikeng met Lichtenburg verbind is boonop ook in ʼn betreurenswaardige toestand. Ná die swaar reën wat dié provinsie die afgelope tyd gekry het, het die pad in ʼn modderpoel ontaard wat ontoeganklik is vir voertuie.

“Paaie regdeur Noordwes benodig dringend instandhouding- en herstelwerk, maar die departement het versuim om in die 2021/’22-boekjaar enige instandhoudingsprojekte aan provinsiale paaie te onderneem en verkrygingskwessies as rede daarvoor gegee,” sê Edwards.

Die DA het nou aan die waarnemende hoofdirekteur van paaiebestuur by die departement van openbare werke geskryf om ʼn duidelike plan van aksie te verskaf om P183-1 te herstel.

“Hierdie is ʼn kritieke vervoerkorridor vir pendelaars en inwoners langs die pad en verdien die hoogste prioriteit en aandag van die provinsiale regering om te verseker dat dit op ʼn aanvaarbare standaard onderhou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.