Foto’s: Lydenburg brand steeds

Skrywer: Narda Vermaak

Die winkel in Lydenburg wat Dinsdagaand deur betogers aan die brand gesteek is. (Foto: Verskaf)

Betogers in Lydenburg, Mpumalanga, het gedurende die afgelope paar dae die Usave-supermark in puin gelaat, ʼn OTM opgeblaas, ʼn reaksie-voertuig van die brandweer beskadig en verskeie winkels geplunder.

Geweld het Maandag in dié dorp opgevlam nadat Thaba Chweu‑ plaaslike munisipaliteit (TCLM), wat die dorpe Lydenburg, Sabie en Graskop insluit, wanbetalende huishoudings se krag afgesny het.

Maroela Media het vroeër berig dat dié sukkelende munisipaliteit poog om van sy nagenoeg een miljard rand se kragskuld aan Eskom op die wyse probeer inwin. Gevolglik is besluit om wanbetalers se krag te sny.

In die 72 uur sedert die aanvang van die protes is paaie in en om die dorp met brandende bande en klippe versper, padtekens is afgeruk, sementstrukture omgegooi, ʼn OTM opgeblaas, twee supermarkte aan die brand gesteek en kleinhandelaarswinkels geplunder.

‘n Nooddienstevoertuig is deur betogers met klippe bestook. (Foto: Verskaf)

Die reaksie-voertuig van Rapid Response, die dorp se privaat brandweerdienste, is ook met klippe bestook. Deon Broekman van dié reddingsorganisasie is oorval deur betogers toe hy ʼn voorskrif by een van die plaaslike dokters gaan afhaal het. “My reaksie-voertuig is erg beskadig. Drie onbekende mans in ʼn Iveco-bussie het genadiglik gehelp om my van die betogers te red, terwyl die klippe om ons neergereën het.”

Intussen het Maroela Media ʼn stemgreep ontvang waar die burgemeester van TCLM, Frida Nkadimeng, ʼn telefoniese gesprek met betogers voer. In die opname word Nkadimeng beveel om haarself Woensdag beskikbaar te stel vir ʼn vergadering met die gemeenskap. Sy word gedreig dat optogte en onluste sal “handuit ruk” en onbepaald sal voortduur, sou sy nie op dié versoek reageer nie.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, het bevestig dat 13 protesgangers sedert Maandag in hegtenis geneem is. “Ons vra die gemeenskap om dadelik te stop met die beskadiging van privaat eiendom en die versper van die paaie. Dit is ongevraag. Ons as polisie glo dat die situasie opgelos kan word deur samewerking en kommunikasie tussen die gemeenskap en die munisipaliteit. Waarom moet noodsaaklike infrastruktuur beskadig word in die naam van ʼn optog? Die SAPD sal aanhou om die situasie te monitor en sal sterk optree teen oortreders.”

Die munisipaliteit sê in ʼn mediaverklaring dat hulle ʼn uitnodiging gerig het aan die gemeenskap om met hulle in gesprek te tree. “Intussen versoek ons [TCLM] dat betogers sal ophou om infrastruktuur te beskadig. Die vandalisme het ʼn negatiewe impak op die munisipaliteit se reeds beperkte begroting ten opsigte van dienslewering. Die geld wat nou gebruik moet word om infrastruktuur te herstel, kon beter aangewend word vir ander gemeenskapsbehoeftes.”

Die meerderheid van sakeondernemings in die onderdorp was teen Woensdagmiddag steeds gesluit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Misky ·

“die SAPD monitor die situasie”…… daar lê julle probleem. SA is nou al in sy peekjie terwyl julle dit monitor. Daai betogers lag julle uit man

Werner ·

Die dag as die polissie begin om die kriminele te vra om asb op te hou, het hulle beheer verloor.Net soos Zuma gesmeek moet word.Die regstelsel het in duie gestort in hierdie land.Ons kan ons maar regmaak vir n rowwe rit.

Misky ·

Beste kommentaar van die dag Genis!!!! Wens ek kon 100 x op duimpies gee

Pieter ·

Sulke gebeure is Suid Afrika se voorland. Almal wil hê en stem, maar niemand wil betaal nie. Die put raak droog en die gans wat die goue eiers lê word geslag.

Sarel ·

Gevolge van ANC beleid ….vernietig ‘n hele gemeenskap…is mos hulle reg

Suzette ·

So hoekom is niemand in die tronk nie ??????????? Hierdie land is in sy maai.

Janee ·

Nie genoeg tronke….een van die dae is dit weer verkiesingstyd dan word die helfte in elk geval losgelaat…

Dup ·

Hoeveel besighede en infrastruktuur is net op hierdie dorp verwoes?
Die wetstoepassers staan en toekyk terwyl vele dorpe en voorstede so vernietig word.
Gaan daar oor 10jaar nog iets oorbly om af te brand?

LANA is ELANè ·

Weereens wys dit ons regering se dubbelstandaarde as dit by wet en orde kom, elkeen maak hier nes hy lus het, want jou velkeur sal bepaal wat die aksie teen jou gaan wees as jy by enige protesaksie sou betrokke raak.
Vieskike skande, hoeveel infrastruktuur is hier vernietig, hoeveel werksgeleenthede is daarmee heen? Net omdat mense ‘n bedelaarsmentaliteit het wat als in hierdie wêreld heeltemal verniet wil hê en as hulle dit nie verniet kan kry nie sal die res van die samelewing ook daarvoor boet.

Janee ·

Besef niemand wat hulle doen?…Dit alles is tog tot hul nadeel ook?… As een aan die hardloop gaan dan is die hel los..

henndrik ·

Hulle kry maar waarvoor hulle gestem het, hoekom is hulle nou ongelukkig. Die mense wat nie vir hulle gestem het nie het rede om ongelukkig te wees

Sêmanet ·

Ek kan nie die nut sien in die verbranding en verwoesting van winkels wat onskuldig is, nie. Dis mos nie USave, of die man op straat wat die krag afsny nie. Moet ook nie goed breek wat julle self moet gebruik nie. Dis nie baie wys nie.

Casper ·

Nou gaan hulle protester oor die 13 wat gearresteer is en weer brand en eiendom van onskuldige mense beskadig.

Elize ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat hulle nie die burgemeester se huis gaan besoek nie. Die madam is mos verantwoordelik dat dinge reg moet verloop of is die teepartytjies te lekker

Francois ·

Die “mahala”-kultuur (ons hoef nie te betaal nie) sal voortduur totdat ALMAL krepeer van ellende.

Die aftakeling van dié verdoemende kultuur behoort in ‘n verpligte skoolvak te vergestalt, waarvoor ‘n régte slaagsyfer nodig sal wees vir vordering na die volgende graad. Belangriker as wiskunde en skeinat…

SomeOne ·

dis nou dieselfde id……..e wat alles brand, more is goedere en geboue nie beskikbaar nie, dan brand hulle die ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.