Foto’s: Ramey, Loricia wys hulle ‘stroopsoet’ baba

Ramey en Loricia Short het self die foto’s geneem. (Foto: LORA Photography)

Die akteur, sanger en fotograaf Ramey Short en sy vrou, Loricia, het op 1 Desember ʼn pienkvoet ryker geword.

Die babaseuntjie heet ook Ramey, en is sowat twee en ʼn half weke vroeër as verwag met ʼn keisersnee in die lewe gebring.

Die Shorts het in Junie vanjaar die nuus dat hulle vir die eerste keer gaan ouers word bekend gemaak.

Dit voel egter nie asof hulle lewens handomkeer verander het nie, is die Shorts dit eens. Hulle verklap aan Maroela Media klein Ramey is ʼn “stroopsoet, maklike baba”.

“Dit voel nie eens asof dit ʼn aanpassing is nie. Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Ons was twee, saam met ons twee honde. Nou is klein Ramey by en dit voel asof dit nooit anders was of moes wees nie,” vertel Ramey.

Ramey het destyds naam gemaak as dr. Quinton Meyer in die kykNET-hospitaalsepie, Binnelanders.

“Mense praat altyd terwyl jy swanger is hoe jy gereed moet maak vir die groot aanpassing, en gereed maak vir min slaap, maar vir ons is dit die verste ding van die waarheid. Dit voel so normaal sedert hy gebore is, asof hy nog altyd net hier was.”

Ramey en Loricia is saam deel van LORA Photography en reis die land plat om troues en ander geleenthede af te neem.

Die skattige klein Ramey. (Foto: LORA Photography)

“Uit die aard van ons werk is ons gewoond daaraan om laat nagte te redigeer; so dit laat ons ook toe om makliker in te val by ʼn roetine waar ons elke drie uur of meer moet wakker word.

“Klein Ramey is net ʼn champ. Loricia borsvoed hom en elke ouer sal dit seker van hulle eie kinders sê, maar hy is glad nie moeite nie en sover is ouerskap ʼn baie lekker ervaring. Dit voel wel steeds soos ʼn droom, maar elke kort-kort besef ek dit is ʼn mensie in die huis, nie ʼn pop nie,” lag Ramey.

Loricia vertel klein Ramey trek op ʼn druppel na sy bekende pa. “Hy is omtrent die spieëlbeeld van sy pa. Die ore, oë, glimlag, donker hare en tone is alles eenders.”

Sy erken sy slaap nou meer as toe sy swanger was. “Ek het baie sleg geslaap tydens my swangerskap, soms nie meer as twee uur per nag nie. Nou slaap ek beter, ek ervaar nie meer soveel pyn en ongemak nie.

“Ek glo ook die nuwe ervaring van ouerskap is makliker as ʼn mens ʼn positiewe houding en uitkyk handhaaf en net die proses omarm. Klein Ramey het net op die regte tyd in ons lewens gekom, en ons was voorbereid.”

Klein Ramey se geelsugtelling ry wipplank en al moet die klein seuntjie vir ʼn paar dae in die hospitaal onder ligte gaan lê om die toestand te behandel, is hy ʼn gesonde seuntjie wat hope vreugde vir sy ouers verskaf.

“Ons ervaar net soveel liefde. Ons is baie geseënd dat dit goed gaan en dat hy gesond is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sonblom ·

Baie geluk met julle skattige seuntjie Ramey en Loricia. Mag hy net vreugde en seën vir julle bring.

Bolandse Nooi ·

Daai foto waar klein Ramey so uitbundig “smile” (ja, ek weet dit was 10/1 ‘n wind!) het my hart sommer laat smelt …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.