Die Blitsbokke het Nieu-Seeland met 17-12 geklop. Seabelo Senatla het twee drieë gedruk terwyl Cecil Afrika die derde drie gedruk het. Branco du Preez het Senatla se eerste drie verdoel. Dit is die Sewes-rugbyspan se eerste goue medalje op die Statebondspele.
Suid-Afrika se viertal-rolbalspan het ook vroeër Sondag ‘n goue medalje ingepalm toe hulle Maleisië in die eindronde geklop het. Die span is Tracy-Lee Botha, Susanna Nel, Esme Steyn en Susanna Steyn. Colleen Piketh het brons gewen in die vroue-enkelspel.
Herman Scholtz en Gyndolene Nel het goud gewen in die Paralimpiese rolbal nadat hulle met Skotland afgereken het.
Chad le Clos, Myles Brown, Sebastien Rousseau en Dylan Bosch het Suid-Afrika se naam in die swembad hoog gehou toe hulle Sondagaand brons in die 4x200m-vryslagaflos gewen het.
Le Clos het ook reeds goud gewen in die 200m-vlinderslag, silwer in die 4x100m-aflos en brons in die 50m-vlinderslag.
Cameron van der Burgh het silwer in die 100m-borsslag gewen. Rousseau het brons gewen in die 200m-vlinderslag sowel as in die 400m individuele wisselslag. Roland Schoeman het silwer in die 50m-vlinderslag gewen.
In die driekamp het Richard Murray, Kate Roberts, Henri Schoeman en Gillian Sanders Saterdag ‘n silwermedalje gewen in die gemengde aflos. Murray het ook Donderdag ‘n bronsmedalje in die mans-afdeling gewen.
Zack Piontek het goud gewen in die onder 90kg-afdeling van die judo. Jacques van Zyl het ‘n brons medalje in die 73kg-afdeling gewen terwyl Siyabulelea Mabulu ook brons in die 66kg-afdeling gewen het. Ruan Snyman het silwer gewen in die kategorie vir bo 100kg.
Suid-Afrika spog reeds met vyf goue medaljes, vyf silwer medaljes en agt brons medaljes.
Welgedaan julle! Ons is trots op jul almal!